Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gelukwense, toe is vuurwapen teen pastoor se kop

Pieter van der Westhuizen was Sondag saam met sy verloofde, Antoinette Watson, in die kerk toe drie gewapende rowers instorm.

Dit was haar verjaardag en gemeentelede van Querencia Bedieninge in Wierdapark, Centurion, het haar kort tevore nog gelukgewens.

Michelle en past. Kobus Erasmus steun mekaar buite die kerk. Hy onthou dat hy sy vrou reg voor hom sien staan het toe die rower die vuurwapen teen sy kop gedruk het. Mev. Erasmus is ook die ma van Pieter van der Westhuizen se verloofde. Foto: Deaan Vivier

’n Rukkie later het ’n rower ’n vuurwapen teen die kop van past. Kobus Erasmus, Watson se stiefpa en ’n man wat met krukke loop, gedruk.

Dit was ook dié aanvaller wat nadat Van der Westhuizen hom tydens ’n oor-en-weer-skietery gewond het, weer regop gekom het, wapen steeds in die hand in die rigting van gemeentelede.

Van der Westhuizen moes tussen kerkmense wat koes en skote van alle kante af weer die rower by die kansel skiet.

“Toe daardie rower sy wapen teen Pastoor se kop druk en slaan, was dit vir sy aanstaande ‘skoonpa’ se lewe wat Pieter baklei het,” het ’n gemeentelid vertel.

Skote mis gemeente

Die binnekant van die kerk is Maandag nog as ’n misdaadtoneel beskou waar twee van die rowers dood is. Van der Westhuizen, broer van die rugbyspeler Joost, was as deel van die ondersoek weer saam met die polisie daar.

Past. Kobus Erasmus beduie hoe die een rower die vuurwapen teen sy kop, sommer daar op die kansel, gedruk het. Foto: Deaan Vivier

Verskeie koeëlgate, sommige laag in die mure waar dit wonderbaarlik hurkende gemeentelede gemis het, het gewys hoe die skote getrek het.

Daar was ook nog bloed in die kerk, veral waar die een rower by die kansel dood is.

Van der Westhuizen self mag weens die polisie-ondersoek nie in dié stadium praat nie. Hy het net aan Netwerk24 gesê dit gaan onder die omstandighede “redelik” met hom.

Sy prokureur, Ulrich Roux, het bygevoeg dat sy kliënt steeds geskok is ná Sondag se voorval.

Ook Erasmus en sy vrou, Michelle, was Maandag by die kerk.

Die pastoor loop weens heupprobleme met krukke en noem terloops dat die rower hom herhaaldelik met ’n oorgehaalde vuurwapen teen die kop geslaan het omdat hy nie gekniel het nie.

“Om te dink daar was tussen 30 en 35 mense binne. Skote trek links en regs. En net die twee rowers is dood.

Rochelle Roets staan Maandag buite die kerk en onthou hoe vyf skote haar Sondag rakelings gemis het. Foto: Deaan Vivier

“Ek is al 30 jaar in die bediening en ek het nog nooit die Here so tasbaar beleef soos gister nie.

“Pieter het met die hulp van die Here ons almal se lewe gered. Ek glo die Here het hom gebruik om ons te beskerm,” voeg Erasmus by.

Hy verduidelik dat Van der Westhuizen, ’n oudpolisieman, sy eie veiligheidsmaatskappy het en daarom sy wapen by hom dra.

“Hy is nie ’n cowboy nie. Onthou, die rowers se wapens was klaar getrek en oorgehaal toe hulle instap. Een het sy wapen in my gesig gedruk en my teen die kop geslaan dat die bloed loop,” vertel die pastoor.

“En voor my staan my vrou. Toe klap die skote en die man langs my val en kom weer regop, wat vir my wys Pieter het oorspronklik nie geskiet om dood te skiet nie,” vertel Erasmus.

Sy hoofbesering en die 15-jarige seun wat ’n “skraapmerk” opgedoen het toe ’n koeël rakelings verby hom getrek het, is die enigste beserings onder gemeentelede.

‘Oom Pieter was amazing’

Rochelle Roets, ’n gemeentelid wat ook die kerk se klank behartig, bevestig dit is “wonderbaarlik” dat niemand van hulle raakgeskiet is nie.

Rochelle Roets vertel hoe sy opgekyk het na die kerkdeur, vas in ’n vuurwapen wat in haar gesig gedruk is. Foto: Deaan Vivier

Sy was agter in die kerk, reg by die deur waar die aanvallers omstreeks 11:30 ingestorm het.

“Ons het gesing. Die deur het oopgegaan. Ek het opgekyk. Daar was ’n vuurwapen in my gesig en die persoon het beduie dat ek moet afgaan.

“Ek het op my knieë gesak, hande in die lug. Ek het begin bid – ek dink hardop,” vertel sy.

Nog twee aanvallers het ingekom. Hulle het vuurwapens op die gemeentelede gerig. Een is na die pastoor op die kansel.

Toe klap die skote. Stukkies muurpleister en teëls het teen Roets gespat. Mense het tussen stoele platgeval. Sy het op haar knieë gebly.

“Daar waar ek op my knieë was, net bo my kop, was twee skote die muur in, en drie langs my verby. As ek nie op my knieë was nie . . .”

Anré Kuipers vertel hulle het gestaan en sing toe iets by die deur sy oog vang.

Hy het ’n man se kop gesien. Die kop het teruggetrek. Toe kom ’n vuurwapen om die hoek en drie aanvallers.

Pieter van der Westhuizen kort ná die voorval by die een rower in die kerk.

Een het by die deur gewag. Die tweede rower is tussen die mense in en het sommer self horlosies afgehaal en fone uit sakke gegrawe. Die rower het ook hul eie sakkies vir die buit gebring.

Die derde, wat Bluetooth-oorfone ingehad het, is na die kansel. Kuipers vermoed dis hoe die aanvallers met mekaar gekommunikeer het.

“Die pastoor is op krukke, en toe ruk die rower hom rond en slaan hom.

“Oom Pieter se wapen was agter by sy rug. As ek reg onthou, het die rower by die deur op hom geskiet. Daardie koeël het teen die muur naby oom Pieter weggespat,” onthou Kuipers.

Van der Westhuizen het teruggeskiet.

“Alles het baie vinnig gebeur. Oom Pieter was amazing. Die tweede rower was op pad na ons toe, en skielik lê hy op die vloer langs my ma.”

Die rower by die deur het al skietend gevlug na ’n wagtende wit Hyundai buite die kerk.

Die sakkies met die geroofde goedere het agtergebly

* Ulrich Roux, prokureur, het verduidelik die standaardprosedure behels dat die polisie-ondersoek afgehandel word en die dossier dan na die nasionale vervolgingsgesag gestuur word om te besluit of iemand wel vervolg moet word.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê daar is reeds ’n verklaring van Van der Westhuizen afgeneem.

Die rower het vir past. Kobus Erasmus met sy wapen so teen die kop geslaan dat die bloed loop. Hy is by die kansel dood, nadat hy glo ’n tweede keer geskiet moes word.
Van die koeëlgate laag bo die grond waar skote die koesende gemeentelede net-net gemis het. Foto: Verskaf
Pieter van der Westhuizen en sy verloofde, Antoinette Watson. Dit was Sondag ook haar verjaardag.


Meer oor:  Pieter Van Der Westhuizen  |  Centurion  |  Aanval  |  Kerk  |  Vuurwapen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.