Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gemeenskap vrees vir hul lewe ná verdagte se dood

Die Vlakfontein-gemeenskap in Gauteng vrees nou vir hul lewe nadat een van die beskuldigdes in die moorde op sewe gesinslede homself glo om die lewe gebring het.

Argieffoto: Nkosi-Malobane troos vir Ningi Khoza, Dudu en Mbali Khoza se niggie. Foto: Felix Dlangamandla

“Nou moet ons hier met (Fita) Khupe (’n medebeskuldigde in die moorde) bly. Hy gaan terugkom,” sê die vermoorde Khoza-gesin se buurvrou wat nie haar naam genoem wil hê nie.

Sy sê noudat Ernest Vusi Mabaso (wat ook die naam Sibusiso Khoza gebruik) glo sy eie lewe geneem het, gaan Khupe (61) vingers na hom wys. Sy sê die gemeenskap vrees dat daar geen bewyse teen Khupe gaan wees nie en dan gaan hy vrygelaat word.

“Hy (Mabaso) moes maar die waarheid vertel het en homself ná die vonnisoplegging gehang het. Hy het al die antwoorde op al ons vrae. Nou gaan ons nooit weet wat eintlik gebeur het nie. Khupe gaan net so wegstap,” sê sy.

Sy meen almal in Vlakfontein leef nou in vrees.

Mabaso en Khupe word van moord met voorbedagte rade op sewe gesinslede aangekla.

Kuphe was 15 jaar lank in ’n verhouding met Mbali Khoza, wat saam met haar suster, Dudu, en Dudu se drie kinders en twee kleinkinders vermoor is.

Dudu se drie kinders, Nomfundo (26), Luyanda (7) en Nondumiso (2), is vermoor, asook Nomfundo se kinders, Karabo (12) en Nkanyiso (2).

Die lyke van die drie vroue en vier kinders het reeds begin ontbind toe dit ontdek is.

Hul lyke is op 29 Oktober onder hope sand in hul huis gekry.

Die lyke van die drie vroue en vier kinders het reeds begin ontbind toe dit ontdek is nadat die bure oor ’n vreemde reuk begin kla het.

Mabaso (27) is verlede Vrydag dood nadat hy homself in ’n polisiesel van Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor met ’n skoenveter glo gehang het.

Volgens Ofentse Morwane, woordvoerder van die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid, is Mabaso na Kaapstad gebring in verband met die ondersoek.

Moses Dlamini, woordvoerder van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê hulle ondersoek omstandighede rondom Mabaso se dood omdat hy in polisieaanhouding dood is.

“Volgens die polisie is sy skoenveters van hom weggevat. Nou word ondersoek waar hy nóg skoenveters gekry het,” sê Dlamini.

Mabaso was aanvanklik in ’n polisiesel van die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor en is later na die Krugersdorpse korreksionele dienste-sentrum oorgeplaas nadat hy beweer het Khupe dreig hom.

Volgens Dlamini is hy op die dag van sy dood Kaapstad toe gebring om die polisie te help met ’n ondersoek na inligting wat hy vir hulle gegee het.

“Hy het om 05:00 daar aangekom en sy lyk is om 08:00 aangetref.”

Mabaso en Khupe sou Donderdag weer vir ’n borgtogaansoek in die hof verskyn het.

Khupe het wel alleen verskyn. Die saak is weens Mabaso se dood tot Dinsdag uitgestel. Hy bly in aanhouding.

Dit is nie ’n normale saak nie aangesien so baie mense na bewering vermoor is.
LUR

Mabaso het hom tydens vorige verskynings as die meesterbrein agter die moorde beskryf. Hy het beweer Khupe het hom gedwing om die gesin te vermoor.

Sizakele Nkosi-Malobane, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê sy is geskok en teleurgesteld oor die beweerde selfdoodvoorval.

“Hierdie verwikkelinge is baie ongelukkig. Dit is nie ’n normale saak nie aangesien so baie mense na bewering vermoor is. Ek wou hê Mabaso moes deur wetstoepassingsowerhede ondersoek word.”

Nkosi-Malobane sê die wetstoepassingsowerhede sal voortgaan om hierdie saak deeglik te ondersoek.

Sy sê die provinsiale regering sal ook voortgaan om die Khoza-familie by te staan.

William Sekgatja, Mabaso se regsverteenwoordiger, het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Selfdood  |  Verdagte  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.