Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gemoedere loop hoog na Junie-slagting op plase en hoewe

“In die huidige omstandighede raak dit moeilik om die gemoedere van boere en plaaswerkers op grondvlak te kalmeer wanneer hulle op hul reg tot veiligheid aandring,” sê Tommie Esterhuyse, hoof van Agri SA se sentrum vir landelike veiligheid.

Mnr. Tommie Esterhuyse

Esterhuyse sê die boerderygemeenskap moet verantwoordelik bly optree en daarop aandring dat die polisie sy grondwetlike plig nakom en alle landsburgers beskerm.

Hy sê as dit nie met die landbou goed gaan nie, gaan dit ook nie met die land goed nie. Die regering moet die waarde van die landbou in beleidsontwikkeling en vir sy polisiëringsmodelle in ag neem om landelike misdaad doelgerig te bekamp.

Suid-Afrika verkeer in een van die moeilikste ekonomiese situasies en daarmee saam ervaar die landbou ’n landbou-onvriendelike regering en beleidsonsekerheid.

Onsekerheid en toenemende landelike misdaad dra nie daartoe by om ’n omgewing te skep waarbinne die landbou kan presteer en tot ekonomiese ontwikkeling bydra nie, sê hy.

Hoewel Agri SA Dinsdag gesê het daar was in Junie 29 plaasaanvalle, sê die TLU SA hy het reeds 40 aanvalle, wat ses moorde insluit, geverifieer.

Onder dié slagoffers is ’n broer en ’n suster, die kinders van plaaswerkers, wat op 18 Junie op ’n plaas buite Polokwane geskiet is. Die seun is in sy bobeen geskiet en sy suster in haar elmboog.

’n Seun is op ’n hoewe noord van Pretoria ernstig beseer toe hy in ’n aanval in die nek geskiet is. Dié aanval was een van sewe binne 24 uur in dieselfde omgewing.

Baie slagoffers is ernstig beseer en selfs gemartel.

Op 5 Junie is Pieter (65) en Ann Nel (61) van Remhoogte, Brits, aangeval. Nel is in die bors geskiet en in die waakeenheid opgeneem.

Schalk (64) en Lana (63) Coetzee is op 6 Junie in ’n plaasaanval buite Reivillo met kookwater gebrand en gewelddadig aangerand.

Moorde:

Op 1 Junie is dr. Roelof Botha by Tulbagh in die Wes-Kaap vermoor en op 4 Junie is Solomon Mbokane, ’n boer van Badplaas in Mpumalanga, vermoor.

Op 6 Junie is Eduard Neumeister (67) by Balgowan in KwaZulu-Natal met ’n kapmes aangeval en vermoor. Neumeister het ’n restaurant en gastehuis op sy plaas bedryf.

Tien dae later op 16 Junie is Kosie Botha (63), ’n boer van Vryheid in KwaZulu-Natal, dood in sy huis aangetref. Sy hande en voete was vasgebind en hy is vermoedelik verwurg.

Edwin Kotzé (56) is op 21 Junie by Buffelsdrift, noord van Pretoria, in ’n rooftog doodgeskiet, en op 23 Junie is Albert Küssel (63) by Sundra op ’n hoewe vermoor.

Meer oor:  Agri Sa  |  Tommie Esterhuyse  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle  |  Grondvlak  |  Boere  |  Gemoedere  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.