Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Genoeg wapens in Centurion-huis ‘om klein oorlog te voer’

Genoeg vuurwapens om ’n “kleinskaalse oorlog” te voer is in ’n huis in ’n oënskynlik rustige woonbuurt in Centurion gekry. ’n Groot dagga-laboratorium is ook in die huis versteek.

Die polisie het Dinsdag die huiseienaar, ’n 50-jarige man, in hegtenis geneem nadat hulle inligting oor beweerde onwettige bedrywighede by die huis ontvang het.

Ondersoekers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag was Woensdag op die toneel omdat van die wapens en toerusting glo die soort is wat deur die weermag gebruik word. Een daarvan is ’n vuurpylrigter.

Dr. Aaron Motsoaledi, waarnemende minister van polisie, staan met ’n vuurpylrigter in ’n dagga-laboratorium in ’n huis in Centurion terwyl polisielede toekyk. Foto: Christiaan du Plessis

Dr. Aaron Motsoaledi, waarnemende minister van polisie, het Woensdag op ’n nuuskonferensie voor die huis gesê die polisie sal ondersoek hoe die wapens in die verdagte se besit beland het.

Motsoaledi staan in vir Bheki Cele wat in die buiteland is.

“Met die getal wapens wat hier geberg is, kan daar ’n kleinskaalse oorlog gevoer word. Die vuurpylrigter kan ’n helikopter afskiet,” sê Motsoaledi.

Volgens hom is van die wapens in “geheime kamers” in die huis versteek.

Hoewel die verdagte ’n vuurwapenwinkel besit, laat sy vuurwapenlisensie hom glo nie toe om die wapens op sy erf te hou nie.

Volgens Motsoaledi het die verdagte beweer hy het die vuurwapens, waarvan die presiese getal nog onbekend is, bloot versamel.

Van die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD

Die polisie sal ballistiese toetse doen om te bepaal of die vuurwapens in misdade gebruik is.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê dit wil voorkom asof die dagga gekweek is om mee handel te dryf, wat onwettig is.

“Daar is genoeg dagga hier om ’n hele dorpie te onderhou,” het Motsoaledi skertsend bygevoeg.

Die groei van dagga is slegs wettig as dit vir private gebruik gekweek word.

Van buite sou ’n mens nie kon sê dat daar ’n magdom vuurwapens en dagga in dié huis versteek word nie. Foto: Christiaan du Plessis

Volgens Motsoaledi is die dagga in optimale omstandighede gegroei met ’n ingeboude temperatuur-reguleerder en ’n verkoelingstelsel.

Khalid Rasoon, een van die bure, sê hy is verstom oor wat in sy buurman se huis aangegaan het.

“As so iets hier in jou straat kan gebeur, wonder ’n mens hoe veilig jy werklik is. Dit wys jou net hoe sleg ’n mens jou bure ken,” sê hy.

Die verdagte sal Donderdag in die landdroshof in Pretoria verskyn. Die polisie se ondersoek kan moontlik daartoe lei dat nog verdagtes aangekeer word.

Meer oor:  Centurion  |  Onwettige Vuurwapens  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.