Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gert van Rooyen: Petisie vra optrede

Die ma van een van die pedofiel Gert van Rooyen se slagoffers sê as haar kind dood is, sal sy berus. As haar dogter ’n familie het en gelukkig is, sal sy óók berus.

Gert van Rooyen het hom en Joey Haaroff op 15 Januarie 1990 doodgeskiet toe die polisie warm op hulle spoor was.

“Ek wil net weet waar my kind is, net soos ek wil weet waar die ander meisies is,” sê Linette van der Lingen (67), Odette Boucher se ma. Dit is waarom sy die Facebook-petisie steun wat ’n nuwe ondersoekspan versoek. Teen Vrydagmiddag het 1 036 mense reeds die petisie onderteken wat op 2 Januarie begin is.

Odette was een van ses jong meisies wat in die 1980’s vermoedelik deur Van Rooyen ontvoer en vermoor is. Kort voordat die polisie Van Rooyen op 15 Januarie 1990 kon vastrek, het hy eers sy houvrou, Joey Haarhoff, en toe homself doodgeskiet. Saam met hulle is baie antwoorde graf toe en die meisies of hul oorskot is nooit gevind nie.

Dis vanjaar 30 jaar sedert die kinders se verdwyning en familie en vriende eis steeds antwoorde.

“Ons dring daarop aan dat die ouers antwoorde kry. Baie mense het brokkies inligting en dit is tyd dat ons ’n ondersoekbeampte kry wat al hierdie legkaartstukkies bymekaar kan sit en vir die ouers gemoedsrus kan gee.”

’n Vriendin van ’n man van een van die slagoffers, wat die petisie onder die skuilnaam “Rina Moolman” geskep het, het die afgelope week aan Rapport gesê die afgelope twee jaar het baie vars leidrade opgelewer. “Daar is verskillende groepe op Facebook en almal sit met sekere inligting wat ons glo resultate kan lewer.”

Leon Nel, ’n privaat ondersoeker wat in Augustus 2017 op versoek van Van der Lingen weer na die saak gekyk het, het hom uiteindelik sowat drie weke gelede finaal van die ondersoek onttrek. “Ek het ’n paar getuies en sensitiewe informante gaan sien en waardevolle inligting gekry, maar hoe meer ek aan die saak krap, hoe slegter word ek gesê.”

Nel sê terwyl hy die saak ondersoek het, is hy selfs deur sommige mense as pedofiel uitgekryt. “Hoe verdedig jy jou teen sulke bewerings?”

Hy sê om drie dekades later weer die sake aan te pak, moet ’n behoorlike ondersoekplan saamgestel word en moet doelwitte verdeel word. Volgens hom is nie een van die meisies ooit deur hul gesinne dood laat verklaar nie. Geen hof het ooit ’n uitspraak in dié verband gelewer nie. Nel sê die polisie se spesiale ondersoekeenheid beskik ook oor multidissiplinêre taakspanne wat so ’n groot ondersoek met gemak sal kan hanteer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.