Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gesamentlike optrede knou perlemoenstropers

“Ons is verheug dat daar nou op groot skaal en op verskeie plekke teen perlemoenstropers opgetree word. Dis iets waarvoor ons, en verskeie inwoners van die Overberg, al lank gevra het. Dit is goed dat daar streng teen die perlemoenstropers opgetree word.”

Dit is die mening van Leo van Dyk van Franskraal, sekretaris van die omgewingsdrukgroep Community Against Abalone Poaching (CAAP).

“Die gesamentlike optrede deur wetstoepassers van Cape Nature, die departement van omgewingsake, die polisie se seegrenseenheid en die weermag in die Tsitsikamma Nasionale Park naby Plettenbergbaai waartydens 48 stropers vasgetrek is, wys duidelik dat daar nou doelgerigte optrede teen perlemoenstropers is.

“Ons bepleit al lank dat hierdie omgewingsmisdaad hokgeslaan moet word en is dankbaar dat sulke streng optrede nou volg.

“Dit is egter wel kommerwekkend dat die stropers van gebiede soos Pearly Beach die vermoë het om so ver uit te wyk en hul misdaad daar te pleeg. Dit wys weer eens daarop hoe goed hulle georganiseer is en hoe maklik hulle van teikengebied kan verander.

“Ons verstaan dat een van Gansbaai se grootste perlemoenstropers, wat al op talle aanklagte van perlemoenstropery tereggestaan het, maar telkens vrygespreek is, ook sy operasie na Port Elizabeth verskuif het – met sy groot rubberbote, duikers en als.

“Wat ook uiters kommerwekkend is, is dat die stropers nasionale parke, soos die Kaap Agulhas-park, wat gewilde stropingsgebiede soos Pearly Beach, Danger Point en Buffeljachts insluit, die Tsitsikamma-park en ook die gebied by Dyer-eiland by Gansbaai, teiken.

“Dit is nasionale bates wat juis daar is om ons natuurlike omgewing te beskerm, en nou word dit van ’n bedreigde spesie soos perlemoen gestroop. Gedurende Desember is perlemoenstropers op Dyer-eiland naby Gansbaai gewaar waar hulle met hul duiktoerusting en gestroopte perlemoen gesien is. Dis ’n groot bron van kommer,” sê Van Dyk.

Tarcia Hendricks, woordvoerder van Cape Nature, het bevestig dat hy verantwoordelik is vir wetstoepassing op en om Dyer-eiland en die Kaap Agulhas-park.

“Die beskerming van perlemoen is ’n provinsiale prioriteit en Cape Nature werk saam met kusgemeenskappe, wetstoepassingsowerhede, Operasie Phakisa, die weermag en bewaringsorganisasies om die onwettige ontginning van perlemoen te keer.

“Ons samewerking met nasionale, provinsiale en plaaslike wetstoepassers lewer resultate. Die Overbergstreek, insluitende Dyer-eiland, is in ’n groot mate afgesluit vir die grootskaalse georganiseerde misdaad wat gewoonlik die dryfveer agter kommersiële (perlemoen-) stropery is,” sê sy.

Van Dyk het bevestig dat die teenwoordigheid van die gesamentlike wetstoepassers ’n positiewe invloed op die stuit van perlemoenstropery het, maar dat slegs die voltydse teenwoordigheid van so ’n mag die misdaad op medium- en langtermyn gaan stopsit.

“Teen die einde van verlede jaar was daar sporadiese optrede deur die gesamentlike wetstoepassingsowerhede en hulle was uiters suksesvol om die stropery te keer. Toe hulle egter onttrek, was dit weer duidelik dat die stropers daarvan bewus geword het en hulle het weer begin stroop. Voltydse voorkoming is die enigste antwoord vir die probleem.

“In daardie tyd is baie rubberbote van vermeende stropers gekonfiskeer en meer as 30 hofsake spruit uit hierdie konfiskerings en gepaardgaande arrestasies. Dit is die enigste manier om die misdaad stop te sit en ons is dankbaar dat dit nou gebeur,” sê hy. 

Meer oor:  Gansbaai  |  Stropers  |  Perlemoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.