Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gesin ‘gebroke’ ná rowers ma se as in kissie steel

’n Groep rowers het as deel van hul buit in ’n huisroof op ’n kleinhoewe in Gqeberha die as van ’n vrou in ’n houtkissie gesteel.

Benewens die trauma van die gewapende roof, is die gesin gebroke oor hul ma se as, wat nou in die hande van rowers is.

“Dit is reeds so moeilik om oor die dood van ’n ma te kom, en ons familie herleef dit in ’n mate.

“Al die materialistiese goed wat gevat is, kan vervang word, maar die kissie is sentimenteel en ons kan dit nooit terugkry nie,” het Kerry Viljoen (29) aan Netwerk24 gesê.

Die rooftog het Maandag omstreeks 22:30 op hul kleinhoewe in Kragga Kamma net buite die stad plaasgevind.

Dit is reeds so moeilik om oor die dood van ’n ma te kom, en ons familie herleef dit in ’n mate.

Volgens die polisie se inligting het vier gewapende rowers ’n 49-jarige vrou, wat ’n kothuis op die kleinhoewe huur, oorval terwyl sy buite die huis gerook het.

“Sy is terug by haar kothuis ingedwing en in ’n kamer toegesluit. Verskeie huishoudelike items is gevat,” sê kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder.

Die vier rowers het daarna na die hoofhuis gegaan, waar Viljoen en haar nege maande oue baba en sy pa reeds geslaap het. Ook Viljoen se pa en haar broer was in die huis.

Viljoen het wakker geskrik toe die rowers skote afvuur om haar pa se kamervenster stukkend te skiet.

Nadat die rowers toegang tot die huis verkry het, is almal na ’n vertrek geneem, waar een rower hulle met ’n vuurwapen gedreig het, terwyl die ander die huis vir waardevolle goedere deursoek het.

Saam met selfone, gereedskap, ’n televisie, en ’n skootrekenaar het die rowers die kissie met Viljoen se ma se as gevat.

Viljoen se ma het in 2017 aan kanker gesterf, waarna haar as in ’n grys houtkissie, soortgelyk aan ’n juweelkissie, met ’n donkergrys kruis op die deksel geplaas is.

Haar pa se trouring was saam met die as in die kissie en Viljoen vermoed die rowers het die ring gesien en besluit om die hele kissie te vat.

Die rowers het kort daarna gevlug.

“Ek is steeds geskok. Dit is ongelooflik wat gebeur het. Dit is so onsensitief om die as te vat. Ons familie se harte is gebreek hieroor.

“Jy hoor gereeld van (rooftogte) en dink nie dit sal met jou gebeur nie. Jy dink jy het ’n plan vooraf as so iets dalk gebeur, maar in daardie oomblik– ek kan nie beskryf hoe hulpeloos jy voel nie.”

Janse van Rensburg sê dit is nog onbekend wie die rowers was en ’n saak van huisroof word ondersoek.

Ek is steeds geskok. Dit is ongelooflik wat gebeur het. Dit is so onsensitief om die as te vat. Ons familie se harte is gebreek hieroor.

Enigiemand wat inligting het of dalk die kissie sien, kan die Kabegapark-polisiekantoor se misdaadkantoor by 082 442 1017 skakel.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.