Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gesin in motor op Pta-hoewe oorval, man ontvoer

“Bly net lê. Hulle kom vir jou.”

Dit was drie aanvallers se woorde voordat hulle weggejaag het met haar man op hul motor se agtersitplek, sê Stefanie Pieterse (29).

Sy en haar man, Neels (35), en hul tweejarige dogtertjie is Dinsdagaand omstreeks 20:30 voor die hoofhek van hul huis op ’n hoewe in Andeon in die weste van Pretoria oorval.

Die gesin het teruggekom van ’n besoek aan Stefanie se ouers, wat ’n entjie van hulle op die hoewe woon. 

Andeon, misdaad, kleinhoewe, Neels Stefanie Pieter
Neels en Stefanie Pieterse Foto: Facebook

Die meisietjie het op haar ma se skoot op die passasiersitplek geslaap toe Neels uitklim om die hek oop te maak.

“Skielik het ’n man Neels gestamp dat hy omval. Ek wou my kind beskerm en die motordeur (aan die bestuurderskant) toemaak en sluit,” sê Stefanie.

Die volgende oomblik het ’n ander man Stefanie aan die passasierskant aan haar arm uit die voertuig getrek. Haar dogtertjie het wakker geword en gehuil.  

“Die man het haar gemaan om stil te bly en te bly lê. Ek het gepleit dat hulle my kind nie seermaak nie,” sê sy.

Sy het eers ’n rukkie later besef ’n derde man staan agter die voertuig.

Stefanie het op haar maag op die grond gelê met haar kind langs haar terwyl twee mans wapens op hulle gerig het.

“Ek het onderdeur die voertuig gesien hoe die ander man Neels skop en sy hande met kabelbinders vasbind. Hulle het hom op die agtersitplek van die voertuig gegooi en vir my gesê om te bly lê. ‘Hulle kom vir jou,’ ” het hulle volgens Stefanie gesê.

Toe die voertuig met haar man daarin wegjaag, het sy opgespring en haar ouers so hard sy kon geroep en gehardloop om hulp te ontbied.

“Die vreeslikste gedagtes het deur my kop gegaan. Ek het net gebid. Gelukkig was ons ouer dogter (7) nie by nie,” sê Stefanie.

Haar ouers en suster het in twee voertuie na haar man gaan soek en hom sowat twee blokke van die huis af ongedeerd in die voertuig opgespoor. Stefanie het by die bure gebly.“

Die mans het hom gevra of die voertuig ’n opsporingstelsel in het. Hy het ja gesê, al was dit ’n leuen,” sê Stefanie.

“Hulle het die voertuig net daar gelos, uitgespring en weggehardloop met ’n skootrekenaar en Neels se beursie.”

’n Polisievoertuig van die Hercules-polisiekantoor wat die omgewing gepatrolleer het, het ook stilgehou.

Stefanie sê hulle is nog baie emosioneel en getraumatiseerd. 

“Bedags is ons oukei, maar sodra die son sak, raak dit erg. Dit was ’n stresvolle storie.

“Die aardse besittings is niks. Ons is net bly ons almal is veilig.”

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Kleinhoewe  |  Ontvoering  |  Misdaad  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.