Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gesin op vakansie in Cederberge uitgewis
Agter links: Dewald Coutts, Teresa en haar man, Luhan Meyer en Rian Coutts, Teresa se ander seun. Voor links: Lurese en Luhann.

Hulle het ’n stil plekkie gesoek om ’n bietjie weg te kom. Maar enkele dae nadat die Meyer-gesin op 18 Junie by die plaas Keurbosfontein in die Cederberge buite Clanwilliam aangekom het, het die polisie op die gesin – pa Luhan (58), ma Teresa (48), dogter Lurese (12) en seun Luhann (10) – se lyke afgekom.

Hulle is almal in die kop met ’n .22-geweer geskiet.

Werkers op die plaas het bekommerd geraak toe hulle nie die gesin in die hande kon kry nie. Die voertuig waarmee hulle op die plaas aangekom het, was by die afgeleë huisie geparkeer waar hulle gebly het, maar van die gesin self was daar geen teken nie. Met die eienaar van die plaas se toestemming het hulle by die huis ondersoek ingestel. Daar het hulle op die lyke afgekom, wat toe reeds begin ontbind het. Die polisie is onmiddellik ontbied.

Teresa Meyer is in die voorval dood.
Almal sê dit is my ma, maar ek het gehoor dat sy hulp gehad het en dat sy nie alleen was nie.

Teresa se seun uit ’n vorige huwelik, Dewald Coutts (27), het Woensdag gesê hy is verlede Donderdag deur die polisie ingelig dat sy ma, sy stiefpa, en sy boetie en sussie se lyke met kopwonde op die plaas gevind is.

Die polisie weet nie wie hulle geskiet het nie, sê hy.

“Almal sê dit is my ma, maar ek het gehoor dat sy hulp gehad het en dat sy nie alleen was nie. Dit kon ook my stiefpa wees – of dit kon my ma wees.”

Die vuurwapen waarmee hulle geskiet is, behoort glo aan sy stiefpa. Dit is in die stadium nie bekend waarom die vuurwapen saamgeneem is of wat tot die voorval aanleiding gegee het nie. Coutts sê hy wil nie oor die redes bespiegel nie.

Die gesin het op Moorreesburg in die Swartland gewoon en die twee kinders was leerlinge aan die Laerskool Dirkie Uys. Die paartjie was sedert 2006 getroud en het saam ’n ysterwarewinkel op die dorp besit. Meyer was ook ’n wetenskaponderwyser by die hoërskool op die dorp.

Rian Coutts, Teresa Meyer en Dewald Coutts op sy gradeplegtigheid.
Dewald Coutts en sy ma, Teresa Meyer.

Volgens Coutts was Meyer ’n sterk mens wat hard gewerk het en wat soos enige ander pa baie vir sy kinders omgegee het.

Coutts beskryf sy ma ook as ’n baie sterk vrou.

“Sy wou net die beste vir haar kinders gehad het. Sy was ’n baie hardwerkende vrou en sy was ’n inspirasie vir my en sal dit altyd wees. Ek hoop om eendag soos my ma te wees. Jy weet, om net so sterk soos sy te wees.”

Coutts sê hy het ’n wonderlike verhouding met sy jonger sussie en boetie gehad.

“Hulle was my pride and joy. Ons was baie na aan mekaar en het baie gesels. Hulle het gereeld kom kuier en was opgewonde om my te sien en tyd saam met my deur te bring.”

Hy woon in Margate in KwaZulu-Natal.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die voorval enige tyd tussen 17:00 op Dinsdag 18 Junie en Donderdag 27 Junie om 10:40 gebeur het.

“Die polisie het op die klag by die adres gereageer en het met hul aankoms die slagoffers met kopwonde aangetref.”

Lurese en haar broers, Dewald en Luhann.
Meer oor:  Luhan Meyer  |  Cederberge  |  Gesinsmoord  |  Meyer-Gesinsmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.