Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gesin verlig dat verdagtes vas is ná moord op prokureur

Die gesin van Gerrit Stander (38), ’n prokureur van Mbombela, is verlig dat twee verdagtes Donderdag vasgetrek is weens sy moord.

MC Stander (41), Gerrit se broer, het Donderdagmiddag bondig gereageer op dié nuus: “Ons as gesin is verlig. Dis al wat ons vir nou gaan sê.”

Gerrit is Maandag in die vroeë oggendure dood nadat hy drie keer geskiet is toe rowers op sy huis op ’n kleinhoewe in Plaston in die Witrivier-omgewing toegeslaan het.

Hy is in die lewer, long en arm raakgeskiet.

Volgens MC het die rowers die grensdraad geknip en die voordeur oopgeskop.

Gerrit Stander (38) is Maandagoggend dood nadat hy in ’n gewapende rooftog geskiet is. Foto: Verskaf

Hy sê die aanval het net ná 02:00 gebeur en Gerrit is net ná 07:00 in die hospitaal dood, kort voordat hy ’n noodoperasie sou kry.

Gerrit se vrou, Yolandi, en sy agtjarige dogter was ook in die huis tydens die rooftog.

Twee selfone, ’n skootrekenaar en ’n televisie is gesteel.

MC sê dit het Donderdag baie beter gegaan met Yolandi en Gerrit se dogter.

“Ons vier vandag (Donderdag) al heeldag sy lewe. Môre (Vrydag) is ook sy verjaardag. Ons hou vir oomblikke op met huil as ons stories vertel van sy lewe. Ons lag dan almal lekker saam. Nietemin is ons harte steeds stukkend ná wat gebeur het,” sê MC.

Kol. Donald Mdhuli, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdagaand aan Netwerk24 gesê die twee mans is Donderdagmiddag in Kabokweni naby Witrivier in hegtenis geneem.

“Die polisie het inligting ontvang oor hul doen en late en het dit opgevolg. Die verdagtes is nie lank daarna nie in hegtenis geneem. Daar is ook tydens die inhegtenisneming goedere gevind wat tydens die rooftog uit die slagoffer se huis gesteel is. Daar is egter geen vuurwapens gevind nie,” sê Mdhuli.

Die verdagtes is 26 en 34 jaar oud.

Mdhuli sê die hulle sal Maandag in die landdroshof in Witrivier op aanklag van moord verskyn.

“Intussen gaan die ondersoek volstoom voort,” sê hy.

Ons sê dankie aan die polisie en almal wat betrokke was om hierdie verdagtes vas te trek. Hierdie verdagtes sal beslis verbind kan word met ander misdade en hulle sal die polisie ook kan lei na hul makkers sodat dié ook vasgetrek kan word.

Die nuus van Gerrit se moord het Maandag skokgolwe deur die gemeenskap van Plaston gestuur.

Jacques Slabbert, lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Dinsdag aan Netwerk24 gesê gemoedere in die gemeenskap is “suur” omdat die polisie glo nie genoeg doen om misdadigers vas te trek nie.

Meer as 60 gemeenskapslede het Maandagaand ná die moord vergader om ’n plan teen die toenemende misdaad in die streek te beraam.

Slabbert het Donderdagaand gesê die gemeenskap verwelkom die nuus van die inhegtenisnemings.

“Ons sê dankie aan die polisie en almal wat betrokke was om hierdie verdagtes vas te trek. Hierdie verdagtes sal beslis verbind kan word met ander misdade en hulle sal die polisie ook kan lei na hul makkers sodat dié ook vasgetrek kan word. Ons gaan nou ’n lys van gesteelde goedere in die gemeenskap vir die laaste ses maande opstel en aan die polisie oorhandig,” sê Slabbert.

Hy sê hoewel die gemeenskap tevrede is oor die inhegtenisnemings, besef almal dat daar steeds ’n groot verantwoordelikheid is om veilig te bly.

“Daar is beslis nog ander misdadigers in die omgewing, so ons sal steeds op ons hoede wees,” sê Slabbert.

Gerrit sal Vrydag vanuit die NG Kerk, Nelspruit Suid-Gemeente, begrawe word.

Meer oor:  Rowers  |  Moord  |  Gerrit Stander  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.