Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gesinstragedie: Ma sien 2 dogtertjies in lykshuis

In ’n derde gesinstragedie binne ’n kort tydjie naby Upington in die Noord-Kaap is die lyke van twee jong sussies en later dié van ’n man, vermoedelik die kinders se pa, uit ’n kanaal gehaal.

Die lyke van die meisies is Donderdag uitgehaal, terwyl dié van die man Vrydag uit die kanaal in Louisvale Dorp, sowat 20 km van Upington, gehaal is.

Ferosa Basson (26), ma van die twee kinders, sê haar hart het in stukke gebreek toe sy Donderdag haar dogtertjies in die forensiese eenheid van die staatslykhuis by die Harry Surtie-hospitaal in Upington moes gaan uitken – eers vir Lebogang-Angel (8) en toe vir Orisilwe-Gladness (4).

Sy was nie bereid om die lyk van die man uit te ken nie, maar sê sy het hom in die water gesien dryf. Hy het met sy gesig na onder gelê. “Ek het hom herken aan sy hemp en die klere wat hy gedra het.”

In dié stadium dui alles daarop dat dit die kinders se pa, Nandos Ramasehele (32), is, maar die polisie het dit nie bevestig nie.

Basson was vroeër in ’n verhouding met Ramasehele.

’n Huilende Basson het Saterdag aan Netwerk24 gesê hulle is uitmekaar nadat Ramasehele haar in 2017 glo so geslaan het dat hy haar regterbeen en linkerarm gebreek het.

“Hy is vir 16 maande tronk toe.”

Nadat hy in 2018 uit die tronk gekom het, het hy by sy familie in Vryburg gaan bly.

Daarna het hulle weer ’n ruk saamgebly, maar daar was baie struwelinge en die laaste vier maande het hy op sy eie in Louisvale Dorp gebly.

“Hy wou die kinders naby sy familie vir skool gaan inskryf, maar die kinders wou nie saam met hom gaan nie,” sê Basson.

Sy sê Woensdag het hy kom vra dat die kinders die dag saam met hom deurbring.

“Die kinders het gehuil en wou nie saam met hom gaan nie. Ek het gesê hulle moet saamgaan want dit gaan net vir ’n rukkie wees.

“Toe kom hulle nooit weer huis toe nie.”

Basson sê die hartseer op Louisvale Dorp is nou baie groot. Sy word ondersteun deur haar suster en die res van die familie. Die hele gemeenskappie het ’n laer om haar getrek om haar by te staan.

“Ons sal volgende Saterdag dubbele begrafnis hou, wanneer ek my twee dogtertjies saam sal begrawe.”

Intussen sê Louisa Louw, ’n assistent- maatskaplike werker van Famsa, dit is die derde treurspel wat Louisvale Dorp die afgelope tyd getref het.

* Netwerk 24 het op 22 November vanjaar berig hoe twee susters van Louisvale Dorp se lyke saam met dié van die oudste se kêrel in die kanaal gekry is.

Mariana Pieters (11), ’n gr. 4-leerling van die Frank Biggs Primêre Skool, en haar suster, Anna (20), se lyke is die Sondag in die kanaal naby Louisvale Dorp gekry.

Die lyk van Anna se kêrel, ene Phiri (22), is die volgende dag gekry.

* In Augustus vanjaar het ’n man ’n ma van sewe kinders na bewering met ’n hamer in ’n huis in Louisvale Dorp doodgeslaan.

* Lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder van die Noord-Kaap, sê die polisie het dossiere vir nadoodse ondersoeke geopen oor die drie lyke wat uit die kanaal gehaal is. Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie en die ondersoek duur voort.

Meer oor:  Upington  |  Moord  |  Gesinstragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.