Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geskop – ‘want sy lyk verdag’

Kymie du Toit se nagmerrie-ervaring verlede Dinsdagaand in die hande van die Tshwane-metropolisie spook steeds by haar en die letsels daarvan is nog duidelik sigbaar op dié kleuterskooljuffrou se gesig.

Kymie du Toit (28) vertel van haar nagmerrie-ervaring verlede Dinsdagaand. Foto: Elizabeth Sejake

“Ek is geslaan, geskop en my gesig is teen die sementvloer gestamp. My knie het seergekry en my arms is vol blou kolle,” het Du Toit (28) die afgelope Woensdag (op haar verjaardag) aan Rapport gesê.

Om alles erger te maak, is Du Toit in Februarie beroof deur vier mans wat hulle as polisielede voorgedoen het.

Verlede week se voorval het plaas­gevind nadat Du Toit kinders opgepas het in die Cornwall Hill-landgoed naby Lyttelton, Pretoria.

“Ek het so 18:00 begin, en die ma van die kinders het my om 23:12 met ’n SMS-boodskap bedank net voordat ek by die hek uit is. Toe ek by die verkeerslig buite stop, het ek die metro­polisie se gemerkte bussie links van my in die pad sien staan,” sê Du Toit.

“Daar is nie straatligte daar nie. Ek het meer gerus gevoel toe ek hulle sien. By die volgende verkeerslig het ek gestop en skielik was hul bussie links van my,” sê Du Toit.

“My handsak het op die sitplek langs my omgeval en my geld het uitgeval. Ek skakel toe die binneliggie aan en tel dit op.

Die een vrou het toe vir hom gesê: ‘Jy weet hierdie wittes het houding. Sy het verdag gelyk.’

“Die bussie het toe oor die volgende verkeerslig gejaag en dwars oor ’n deel van die pad getrek.”

“Toe die een man met ’n flits uitspring en wys ek moet aftrek, was ek dadelik weer terug in Februarie. Die polisie het destyds vir my gesê as ek ooit weer in so ’n situasie is, moet ek my noodligte aanskakel en vir die polisie wys dat ek hulle acknowledge. Dan moet ek stadig aanry tot by ’n plek wat vir my veilig voel,” sê Du Toit, wat toe dié raad gevolg en aangery het.

“Die bussie was soms so naby agter my, ek kon nie eens hul ligte in my truspieëltjie sien nie. Hulle het my twee of drie keer van die pad probeer afdruk.”

By ’n Total-vulstasie in Moreletapark het sy gevoel dis “veilig genoeg om te stop”.

“Hulle het my uit die kar getrek. Twee mans en twee vroue. Die een vrou het my kop, linkerwang eerste, ’n paar keer teen die grond gestamp terwyl hulle my geboei het,” sê Du Toit.

Die metropolisie beweer hulle het tussen ’n halfuur en ’n uur lank agter haar aangery nadat sy “weggejaag” het.

Voor die aanranding.

“Volgens die CCTV-video by die vulstasie het ek om 23:25 daar gestop. Van die dankie-SMS tot by die vulstasie het 13 minute verloop.”

“My kar se Tracker wys ek het nie een keer vinniger as 53 km/h gery nie.”

Rapport het dié inligting van die motor se satelliet-opsporingstelsel onder oë gehad.

Die beamptes het toe haar motor na haar ma se huis toe bestuur. “Ek het vir die bestuurder gesê hy moet by die volgende straat regs draai. Toe sê hy ek moet wýs watter kant toe, nie sê nie. Ek het toe maar met my hande agter my rug geboei die pad geskouer-beduie,” sê Du Toit. “Hulle het vir my ma gesê hulle vat my Lyttelton-polisiekantoor toe, maar toe ry hulle nog omtrent ’n uur met my rond en probeer ander mense aftrek. Die een vrou vra toe of ek soos ’n hond gaan weghardloop as sy die boeie afhaal,” sê Du Toit.

“Hulle het vir my gesê ek gaan in Sunnyside se polisieselle slaap en dat my lewe daar gaan eindig.”

Sy het die beamptes probeer vertel van haar Februarie-ervaring.

’n Skermgreep van beeldmateriaal wat deur die vulstasie se kringtelevisiekameras opgeneem is. Foto: Web
Nog ’n skermgreep van beeldmateriaal wat deur die vulstasie se kringtelevisiekameras opgeneem is. Foto: Web

“Hulle wou nie luister nie. Ons het iewers in ’n donker area in Centurion afgetrek. Daar was ander metrokarre geparkeer en mense in uniform het rondgestaan en gerook.”

’n Ander beampte het haar toe drie keer ’n alkohol-blaastoets laat doen. “Dit was ’n gebruikte een. Ek kon die ou rook en alkohol proe. Die eerste twee toetse het gefail, maar die derde een het 0.0 gemeet.”

Hulle is toe na Lyttelton-polisiekantoor, waar haar ma en huisvriende gewag het, maar meer as ’n uur later en sonder om haar mense in kennis te stel, het die metropolisie besluit om haar tog na die Sunnyside-polisiekantoor te neem. Hulle het die Lyttelton-polisiekantoor aan die agterkant verlaat.

By die Sunnyside-polisiekantoor aangekom, het Du Toit daarop aangedring om haar ma te bel.

“Die vrou het haar selfoon gestel sodat haar nommer privaat bly. Toe ek die foon vir haar gee en haar vra dat sy met my ma praat, het sy dit doodgedruk. Omdat die nommer privaat was, kon my ma toe nie terugbel nie,” sê Du Toit.

’n Ouer polisiebeampte was in beheer van opnames by die Sunnyside-polisiekantoor. “Hy het vir die beamptes gevra wat die gronde van my arres was. Toe sê hulle roekelose en nalatige bestuur, maar dat ek nie onder die invloed is nie,” sê Du Toit.

“Die een vrou het toe vir hom gesê: ‘Jy weet hierdie wittes het houding. Sy het verdag gelyk.’ Toe vra hy vir hulle of ek dan in die tronk moet slaap oor ek houding het en verdag lyk.”

’n Speurder het die metropolisielede toe weggestuur, Du Toit se vingerafdrukke geneem en haar toe met sy eie motor na die Lyttelton-polisiekantoor geneem. “Op pad het hy gesê hy sou presies dieselfde as ek gedoen het. Ek is 04:00 saam met my ma huis toe.”

Die saak van roekelose en nalatige bestuur teen Du Toit is sedertdien van die rol geskrap. “Ek het nou ’n klag van aanranding teen die metropolisielede ingedien en ek kry regsadvies oor siviele optrede.”

Isaac Mahamba, Tshwane-metropolisie-woordvoerder, het die voorval bevestig. “Ons is bewus van die video en die voorval. Ons kan bevestig dat die mense in die video lede van die TMPD (die metro-polisie) is. ’n Interne ondersoek is in ’n gevorderde stadium.”

Meer oor:  Kymie Du Toit  |  Polisie  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.