Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geslaan ná hy glo ’n skaap steel

Twee skaapboere van Carnarvon in die Noord-Kaap word daarvan beskuldig dat hulle ’n opkomende boer aangerand het omdat hy hul skape glo vir ’n begrafnisdiens sou gesteel het.

Samuel de Wee Foto: Esau Hoorn

Lt.kol. Dimakatso Mooi, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig Bertus Steenkamp (63) en sy seun Roux (27) is in hegtenis geneem op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, menseroof en naamskending. Hulle is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en moet weer op 19 November in die hof verskyn.

Samuel (Hakkie) de Wee, ’n kleinboer wat ook by ’n plaaslike begrafnisondernemer werk, beweer die Steenkamps het hom op 11 September op hul plaas, Klipbanksfontein, aangerand.

De Wee voer aan hy moes die dag tevore twee skape in Loxton by sy neef Petrus Vorster gaan haal. Vorster, ook ’n kleinboer, verkoop gereeld skape. Dié skape was bedoel vir ’n ete wat ’n familie ná ’n begrafnisdiens sou voorsit.

Op pad Loxton toe het sy kar gebreek en die Steenkamps het stilgehou om te help. De Wee beweer hy het vir hulle gesê hy is op pad om skape by sy neef te gaan haal. ’n Dag later het die Steenkamps blykbaar agtergekom skape is op hul plaas gesteel en De Wee onmiddellik daarvan verdink.

Hulle is toe na De Wee se werkgewer, Esau Hoorn, om te verneem waar hy is. De Wee het hul beskuldigings ontken, waarna die Steenkamps na bewering vir hom gevra het om saam met hulle plaas toe te ry “om hom iets te gaan wys”, sê Hoorn. “Hy het ingestem om saam te gaan omdat hy geglo het dat hy niks gehad het om weg te steek nie.”

‘Almal se moere is omge-ellie.’

Op die plaas het hulle De Wee glo geneem na die plek waar die vel van die geslagte skaap gelê het. De Wee is glo gevra om sy regterstewel uit te trek en die Steenkamps het ’n spoor op die grond gedruk om te “bewys” dat hy vroeër op die toneel was. Hulle het hom toe onder meer met ’n stok aangerand, word beweer.

Hulle het hom toe blykbaar teruggeneem dorp toe. Hoorn beweer De Wee het net ná 14:00 by sy huis opgedaag.

“Hy was erg bebloed, in skok en erg getraumatiseer. Ek het hom dadelik na die polisiestasie geneem om ’n klag te gaan lê. Die Steenkamps was toe reeds besig om ’n veediefstalklag te lê.”

Bertus Steenkamp Foto: Facebook
Roux Steenkamp Foto: Facebook

Lilian Andreas, voorsitter van die beleggingsforum Noord-Kaap, wie se familie die begrafnis gehou het, sê die Steenkamps was ook by haar huis om die skaapboud en -wol te inspekteer. “Ek het toe nie geweet dat Hakkie vrek gemoer is nie.” Sy sê die voorval het spanning in die gemeenskap geskep. “Almal se moere is omge-ellie. Hierdie is nie ’n rasseding nie, dis ’n gemeenskapsding.”

Die Steenkamps het nie Rapport se oproepe beantwoord nie.

Meer oor:  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.