Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Geslagsgeweld: Duisende by optog verwag

Nadat talle jong vroue die afgelope ruk die slagoffers van ontvoering, verkragting en grusame moorde was, het Suid-Afrikaners besluit genoeg is genoeg.

Die moord op Lynette Volschenk in Bellville, op die ruiter Meghan Cremer en die eerstejaarstudent Uyinene Mrwetyana wat ook verkrag is, het mense op sosiale media laat wonder: “Is ek volgende?”

Daarom het Nicole Mirkin van Kaapstad besluit om ’n byeenkoms “teen hierdie afgryslike misdade teen vroue in ons land” te reël.

Uyinene Mrwetyana
’n Groep studente bymekaar op die Universiteit Stellenbosch se Rooiplein tydens ’n nagwaak vir die vermoorde Uyinene Mrwetyana en ander slagoffers van geslagsgeweld. Foto: Francois Lombaard

Volgens Mirkin sal dit ’n betoging wees; nie ’n optog nie.

“Donderdag om 10:00 gaan ons geklee in swart by die parlementsgebou in Kaapstad byeenkom om hulde te bring aan die vroue wat onlangs gesterf het, en om te eis dat daar dringend opgetree word,” sê Mirkin, die stigter van die organisasie Fight Back SA, wat vir jong vroue selfverdediging leer.

“Ons wil linte, kaartjies, blomme en kerse aan die heinings van die parlement vasmaak om hulde te bring aan die slagoffers.

“Daar sal ook sprekers wees, onder meer van die Universiteit van Kaapstad (waar Mrwetyana gestudeer het) en die Universiteit Stellenbosch (US, waar Hannah Cornelius, wat in 2017 verkrag en vermoor is, ’n student was),” sê Mirkin.

“Ons gaan ’n memorandum aan die president se kantoor oorhandig waarin ons eis dat daar dringend opgetree word. Veral die tekort aan verkragtingsbewysstelle by polisiekantore en ’n tekort aan polisiëring word uitgelig.”

Mirkin sê die byeenkoms is nie net vir vroue nie, maar hulle verwag ook heelwat manlike betogers.

“Die misdade teen vroue raak nie net vroue nie, maar mans ook. Ons het aanvanklik gedink daar sal so 50 mense opdaag, maar nou lyk dit asof daar 5 000 gaan wees.”

geslagsgeweld
Kerse brand vir dié wat hul lewe weens geslagsgeweld verloor het. Foto: Francois Lombaard

Talle studenteorganisasies by die US, insluitend die studenteraad, het op hul Facebookblad geskryf dat hulle planne maak om die geleentheid by te woon. ’n Skakel is gedeel waar studente kan aandui of hulle busvervoer na die parlement benodig.

’n Stel reëls vir die dag is ook gedeel. “Geen alkohol of onwettige middels sal geduld word nie en ook geen rommelstrooiing, plundering, onbeskofte of gewelddadige gedrag nie. Geen skade aan stads-, parlements-, openbare of private eiendom nie. Luister na die sameroepers en na stadsbeamptes of die polisie, hulle is teenwoordig om ons veiligheid te verseker.”

Die UK het verklaar dat Woensdag ’n dag van rou en aktivisme teen seksuele en geslagsgeweld op kampus is en dat daar geen klasse sal wees nie.

Die universiteit hou self Woensdag ’n optog voor die parlement teen geweld teen vroue. Almal word gevra om swart aan te trek en plakkate saam te bring. Dié optog begin om 09:00.

Meghan Cremer
Meghan Cremer se ma, Gill, maak ’n lint vas aan ’n beeld buite die hekke van die Vaderlandsche Rietvlei-plaas waar Meghan gewerk het. Foto: Jaco Marais

Verder word ’n gedenkdiens Woensdag vir Mrwetyana by die UK gehou wat haar familie sal bywoon. Graça Machel, die UK se kanselier, en Sipho Pityana, voorsitter van die universiteitsraad, sal teenwoordig wees.

“Ons as UK-bestuur is oorval met boodskappe van hartseer, woede en angs. Ons het gesien hoe lede van ons gemeenskap mekaar ondersteun, uitreik om hulp en mekaar dra in hierdie moeilike tyd,” sê prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die UK, in ’n verklaring.

“Gebruik asseblief môre om te rou oor Nene, en om op te staan teen seksuele en geslagsgeweld in ons gemeenskappe en in ons samelewing.”

Die Stellenbosch Kruiskerk hou Donderdag om 13:00 ’n spesiale geleentheid vir “treursang en gebed”. Almal is welkom om dit by te woon.

Meer oor:  Parlement  |  Kaapstad  |  Gedenkdiens  |  Betoging  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.