Gevaarlike mediese afval is waarskynlik iewers in Kaapstad deur gewapende rowers gestort, nadat hulle Vrydag die vragmotor gekaap het waarin die afval vervoer is.
Die maatskappy Averda, wat amper ’n derde van die land se mediese afval hanteer, doen ’n dringende beroep dat die publiek op die uitkyk vir die afval moet wees.
Die vragmotor is in Khayelitsha gekaap nadat bokse en verseëlde houers by klinieke in die omgewing afgehaal is.
Averda waarsku die materiaal wat gebruik word in gesondheidsorg hou ’n ernstige risiko vir die publiek in as dit verkeerd hanteer word.
Dié mediese afval word noukeurig gereguleer en moet deur kenners by plekke vir afvalbehandeling vernietig of ontsmet word.

Houers met mediese afval soos hierdie is weg ná ’n kaping. Foto: Verskaf
Volgens Averda is twee soorte gesondheidsorgafval op die dag versamel:
• Skerpvoorwerphouers wat mediese naalde en ander skerp voorwerpe wat in spesiaal ontwerpte en gereguleerde houers van 8 liter gegooi word. Hierdie heldergeel houers het deksels waarmee nie gepeuter kan word nie.
• Aansteeklike afval wat in rooi sakke en in weggooibare kartonbokse geplaas is wat duidelik gemerk is dat dit gevaarlike afval bevat.
Die afval bevat geen menslike dele of farmaseutiese middels nie.
“Ons doen ’n beroep op die publiek wat die bokse en of houers opmerk om dit onmiddellik by die polisie aan te meld. Mense word aangeraai om nie aan die bokse te raak of oop te maak nie,” sê Marika Human, Averda se woordvoerder.

Bokse soos hierdie is moontlik deur die kapers iewers gestort. Foto: Verskaf
Die maatskappy het ’n span op bystand geplaas om die afval te gaan haal en veilig te verwyder.
Volgens die maatskappy was die bestuurder, wat met ’n vuurwapen aangehou is, ongedeerd vrygelaat en het hy berading ontvang.
Die voorval is by die polisie aangemeld, asook by die provinsiale en nasionale departemente wat verantwoordelik is vir afvalbestuur. Die betrokke klinieke is ook in kennis gestel.
Enigeen wat inligting het oor die voorval of die afvalmateriaal kry kan die Averda-inbelsentrum by 0861 283 732 bel.