Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gewelddadige protes eis enkelma se lewe
Die voertuig waarin Andiswa Ndevu (36) Dinsdagaand op slag dood is toe sy vir gewelddadige betogers probeer wegjaag het.

Gewelddadige protesaksie in Kaapstad het Dinsdagaand die lewe van ’n enkelma geëis toe sy probeer wegjaag het van ’n toneel in Philippi waar ’n groep betogers voertuie met klippe bestook het.

Andiswa Ndevu (36), ’n ma van vier kinders wat aktief betrokke is by die ANC-vroueliga en bekend is daarvoor dat sy mense in die gemeenskap help, is dood toe sy uit vrees vir haar lewe probeer wegjaag het en in ’n motorongeluk betrokke was.

Dinsdagaand was daar chaos in dele van Kaapstad toe betogers gewelddadig geraak het. Behalwe vir die voorval waarin Ndevu dood is, is daar ook ’n bus en ’n voertuig van die provinsiale verkeersdepartement op die N2 uitgebrand en ’n vragmotor is in Philippi uitgebrand en die insittendes aangerand.

Op die N2 is ’n bus in die inkomende bane na Kaapstad aan die brand gesteek in die omgewing van die R300.

Bande is ook in dieselfde omgewing in die N2 se uitgaande bane aan die brand gesteek.

Maxine Jordaan, woordvoerder van die Kaapstadse verkeersdepartement, sê daar was nie passasiers in die bus nie. Niemand is in die voorvalle op die N2 beseer nie en die N2 is omstreeks 23:30 weer oopgestel.

’n Taxi voor die Juno Corp-vragmotor kon nog omdraai en wegjaag, maar die vragmotor was te groot. Aanvallers het die vragmotor se vensters met bakstene stukkend geslaan en voor in die vragmotor ingespring en die bestuurder en twee werkers begin aanrand tot hulle uitgespring en gevlug het.

Faiez Jacobs, Wes-Kaapse sekretaris van die ANC, het gesê Ndevu was bekend in Gugulethu, waar sy gemeenskapswerk gedoen het. Die ongeluk was op die hoek van Lansdowne- en Symphonyweg.

Jacobs sê dit blyk die motor voor dié van Ndevu is met klippe bestook. Sy het probeer om ’n U-draai te maak en ’n ander motor het in haar vasgery. Sy is op slag dood.

“Ons betuig ons medelye met haar familie en vra die gemeenskap om nié hul frustrasies en woede op ’n gewelddadige manier op motoriste uit te haal nie. Daar is beter maniere om protes aan te teken wat meer vredevol is.”

Jacobs het gesê mense wat op dié manier betoog, is nie ANC-lede nie. Daar is ’n vlak van desperaatheid wat baie militant is, volgens Jacobs.

In nog ’n geval naby Lansdowneweg Dinsdagaand omstreeks 23:00 is drie werkers van die besigheid Juno Corp ook aangeval.

Sarel van Biljon, groepbedryfsbestuurder van Juno Corp, sê die drie was onderweg terug van ’n noodgeval waar hulle gaan werk het. Die bestuurder van die voertuig wou sy twee assistente by die huis gaan aflaai, toe hulle besef daar is probleme voor in die pad.

’n Taxi voor die Juno Corp-vragmotor kon nog omdraai en wegjaag, maar die vragmotor was te groot. Aanvallers het die vragmotor se vensters met bakstene stukkend geslaan en voor in die vragmotor ingespring en die bestuurder en twee werkers begin aanrand tot hulle uitgespring en gevlug het. Die vragmotor is Woensdagoggend in ’n nabygeleë veld gekry waar dit heeltemal uitgebrand is.

Mike Dreyer, voorsitter van Juno Corp, sê die geweld is onverstaanbaar. “Om eiendom in ’n protesaksie te vernietig, maak nie sin nie. Die voertuig en werknemers van Juno Corp was juis in die omgewing omdat daar aan ’n noodgeval gewerk is, maar nou is die werkers aangerand en die vragmotor uitgebrand.”

Dreyer sê hulle doen kontrakwerk en moet aanhou dienste lewer, maar hulle vrees vir hul lewens.

Die vragmotor wat uitgebrand is nadat die bestuurder en twee assistente Dinsdagaand tydens protesaksie in Philippi aangerand is.

Meer oor:  Protes  |  Philippi  |  Andiswa Ndevu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.