Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gewonde boer probeer koeël met hand keer
Kallie en Thelma van Heerden. Kallie was alleen op die plaas toe hy oorval is. Foto: Verskaf

Die boer in Noordwes wat vyf skote in ’n plaasaanval oorleef het, het ’n koeël probeer afweer deur sy regterhand teen die pistool se loop te druk.

“Die koeël wat toe deur sy regterhand is, het groot skade aangerig,” sê Pieter du Preez, AfriForum se takvoorsitter in Stilfontein.

Die boer, Kallie van Heerden (62), word tans onder verdowing in die hoësorgeenheid van die Anncron-hospitaal in Klerksdorp behandel vir onder meer twee skote wat ook deur sy bolyf is.

Van Heerden se dogter, Marle van Heerden, het Dinsdag vertel haar pa het ná sy verbete geveg Maandag met die rowers op sy plaas Rooikuil naby Hartbeesfontein tog vrede gehad om te sterf. “Hy het in die ambulans op pad hospitaal toe gesê as dit sy tyd is om te gaan, is hy gereed.”

Van Heerden eers wanneer hy sterker is, geopereer kan word om die skade te herstel wat die skote aan sy regterhand, elmboog en pols aangerig het, sê Du Preez. ’n Vierde koeël is dwarsdeur sy borskas en agter by sy rug uit, terwyl ’n vyfde in sy long vasgesteek het. Volgens Du Preez gaan die koeël in Van Heerden se long voorlopig nie verwyder word nie. “Nie een van die koeëls het belangrike organe of are getref nie.”

Hy het in die ambulans op pad hospitaal toe gesê as dit sy tyd is om te gaan, is hy gereed.

Van Heerden was Maandag omstreeks 16:00 alleen op sy plaas toe drie rowers hom by die stoor oorval het, sê Jaco Maré, voorsitter van Hartbeesfontein se landbouvereniging. Van Heerden se vrou, Thelma, was in Hartbeesfontein.

Die rowers het reeds by die stoor op Van Heerden begin skiet en hom die huis ingedwing. Daar wou hulle die sleutels van die kluis hê, maar Van Heerden het geweier om dit te gee. “Toe skiet hulle hom nog ’n keer. Toe gee hy die sleutels vir hulle,” sê Maré.

“Gelukkig het die krag afgegaan net toe die rowers Kallie met ’n strykyster wou brand. Hulle het vuurwapens uit die kluis gesteel, Kallie in ’n kamer toegesluit en die huis gesluit voordat hulle vermoedelik te voet gevlug het.”

Van Heerden het daarna ondanks sy swaar gewonde toestand hulp oor die burgerbandradio wat in die kamer was, ontbied.

Maré sê die gebeurlikheidsplan van die landbouvereniging se veiligheidskomitee tydens plaasaanvalle het toe dadelik in werking getree. “Die bure is eerste na Kallie om hulp te verleen. Die polisie en ambulans is ontbied. Ons veiligheidsvoertuig is ook dadelik na die toneel om dit te beveilig sodat bewyse nie vernietig kan word nie. Intussen het boere reeds na verskillende plekke in die omgewing gegaan, begin patrolleer en inligting ingesamel.”

Maritha Coetzee, DA-raadslid in die Matlosana-munispaliteit wat die gebied bedien, sê Maré en die ander boere betrokke by die plaaswag het Van Heerden se lewe gered. “Hulle het ook gesorg dat die pad veilig is vir die ambulans na die hospitaal. Dis ’n skande dat plaaslike gemeenskappe self verantwoordelikheid moet aanvaar om misdaad te bekamp om hul families veilig te hou. Die DA sal daarom aanhou veg dat die polisie weer plaaslike veiligheidseenhede vestig.”

Kapt. Aafje Bothma, polisiewoordvoer in Noordwes, sê ’n saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek. “Drie vuurwapens is gesteel, maar dis nog nie seker of ander items of geld ook vermis word nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.