Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gewonde broers baklei aanvallers van hoewe af
gladstone
Dirk Gladstone verduidelik hoe hy en sy broer Johan Pienaar drie gewapende mans met stoele aangeval het.

Twee broers het Donderdagaand op hul kleinhoewe in Mnandi, Centurion, met drie gewapende mans om hul lewens baklei – nadat hulle reeds gewond is.

“Ek het geweet ek moes baklei anders was ek en my familie dood,” sê Dirk Gladstone.

Hy en sy meisie, Claudia Kruger, en sy broer Johan Pienaar het Donderdagaand omstreeks 22:25 sy 35ste verjaarsdag gevier toe die aanvallers hulle verras.

Gladstone het Vrydag aan Netwerk24 gesê hy het aanvanklik twee mans uit die aangrensende veld sien aanstap. “Toe hulle nader kom, het ek gesien daar is drie.

Die een het ’n panga gehad, die een iets wat lyk soos ’n bom en die ander een ’n pistool,” sê Gladstone.

Die aanvaller het toe drie skote afgevuur. Een skoot het Gladstone in die hand getref en ’n ander in deur sy sy. Pienaar is in die linkerknie geskiet en die koeël het in sy regterknie gaan vassit.

Ons het eers daarna agtergekom ons albei is geskiet. Die adrenalien het ons gedra en ons het geweet ons kan nie ons hele familie se lewens in gevaar stel nie.

Ná die skote het Gladstone die man met die pistool met ’n radio gegooi wat op die tafel gestaan het. Die ander aanvaller het toe die “bom” op die stoep gegooi en dit het ontplof.

Gladstone en Pienaar spring toe op. Die boeties het al drie die aanvallers met stoele geslaan en Pienaar het bo-op een van die aanvallers gespring. Die aanvallers het oor die draad gespring en die voorval was binne enkele minute verby.

dirk
Dirk Gladstone se die aanvallers wat hom en sy broer Johan Pienaar Donderdagaand geskiet het, was minder as 10 meter van hulle weg toe die eerste skote gevuur is.

Toe Kruger die aanvallers aanvanklik sien aankom, het sy paniekbevange na haar dogter Veronique (16) gaan soek. “Sy was bo in die huis in die kamer besig en toe ek die mans sien aankom, het ek opgehardloop om te sien of sy oukei is. Ek het ons in die kamer toegesluit en skote hoor afgaan. Ek was so bang, want ek het nie geweet of hulle (Gladstone en Pienaar) nog lewe nie. Ek het ook gevrees dat die aanvallers ons gaan kom doodmaak,” vertel Kruger.

Toe die aanvallers vlug, het Gladstone tot groot verligting van die vroue by die huis ingehardloop.

Pienaar het na sy ouers se huis, ook op die kleinhoewe, gehardloop om te kyk of hulle veilig is.

“Ons het eers daarna agtergekom ons albei is geskiet. Die adrenalien het ons gedra en ons het geweet ons kan nie ons hele familie se lewens in gevaar stel nie,” sê Gladstone.

Die owerhede is omstreeks 22:30 na die toneel ontbied.

Gladstone en Pienaar is na ’n nabygeleë hospitaal gebring, waar Pienaar Vrydagaand ’n operasie sou ondergaan om die koeël uit sy regterknie te verwyder. Gladstone is Vrydagoggend ontslaan.

“Hy (Pienaar) vier Maandag sy 33ste verjaarsdag. Ons sou Saterdag ’n groot kuier gehou het waar die hele familie vir die eerste keer in tien jaar almal bymekaar sou wees,” sê Gladstone. Die partytjie is intussen gekanselleer.

Die gesin sê hulle gaan binnekort trek. “Ons huur tans en wou die plek koop, maar daar is geen manier dat ons nou hier gaan bly nie,” sê Gladstone.

“Dit is vir ons so mooi hier,” voeg ’n somber Kruger by, “maar dié voorval bewys dat mooi ook iets lelik kan word.”

dirk gladstone
Dirk Gladstone verduidelik hoe hy en sy broer Johan Pienaar drie gewapende mans met stoele aangeval het.

Meer oor:  Huisrowers  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.