Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gewonde man bly skiet op rowers wat op bure toeslaan

’n Gewonde man van Vanderbijlpark het aanhou skiet op rowers – selfs nadat hy gewond is – en sodoende gehelp dat die polisie die skelms vastrek.

Elaine Coetzee vertel Vrydag hoe haar man onverskrokke bly terugskiet het op huisrowers nadat hy self twee keer raakgeskiet is. Foto: Melinda Stuurman

Ian Coetzee (44), stigterslid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Donderdag onverskrokke sy bure te hulp gesnel toe hulle helder oordag deur twee gewapende mans in hul huis oorval is.

Die rekenaarprogrammeerder van Vanderbijlpark, Gauteng, was besig om van die huis af te werk.

Albei aanvallers het glimbaadjies en maskers wat deur die polisie gebruik word aangehad, sê sers. Getrude Makhale, polisiewoordvoerder.

Die buurman, wat buite was, het gesien hoe die aanvallers by die huis inkom en het toe om sy huis na die Coetzees gestap om hulp te kry.

Elaine se man, Ian Coetzee, het Donderdag bure te hulp gesnel het toe hulle deur twee rowers in Vanderbijlpark oorval is. Foto: Melinda Stuurman

Elaine Coetzee (43), Ian se vrou, sê hul buurman het omstreeks 11:00 “aan ons deur kom ruk”. Die rowers was besig om hulle te beroof en het sy vrou met ’n vuurwapen aangehou.

Bure weet hulle kan staatmaak op die egpaar, wat in 2015 ’n GPF in die buurt begin het. Elaine sê dit was nadat hul gesin self in hul huis aangehou en beroof is. Haar oudste seun is in dié voorval amper deur die aanvallers doodgewurg.

Sy het Vrydag nog by familie in Alberton oorgebly om naby haar man te wees wat in die Unie-hospitaal opgeneem is.

Sy vertel Coetzee het nie geskroom om die bure by te staan nie. Hy het sy vuurwapen gegryp en na die huis gehardloop.

‘Pappa is geskiet, pappa is geskiet’

Elaine was besig om die polisie met bewende vingers te probeer bel toe sy skote hoor klap.

Ian Coetzee word Donderdag uit die ambulans gelaai. Hy is twee keer deur rowers raakgeskiet en is vir ’n noodoperasie om bloeding te stop na die Unie-hospitaal in Alberton geneem.

Al wat sy weet, is dat haar man dapper aanhou skiet het op die rowers, al het die rowers sonder ophou op hom geskiet.

Hy het een van die rowers in die been gewond.

Sy het eers besef Coetzee is gewond toe haar twee seuns vir haar skreeu hul pa is getref. Hulle was tuis om vir die eksamen te leer.

Coetzee het erg gebloei. Die buurman het hom terug na sy eie huis begin sleep-trek terwyl Coetzee steeds aanhou vuur op die rowers. In die proses het hy die wegkommotor – ’n wit Mercedes-Benz GLA 200D – getref.

Dié skoot, wat een van die bande getref het, het veroorsaak dat die rowers nie ver kon vlug voordat hulle moes stop nie.

’n Polisiepatrolie het die verdagtes in die voertuig opgemerk en hulle ingejaag, maar naby die N1 het die verdagtes stilgehou en verder probeer weghardloop. Polisielede het hulle egter vinnig ingehardloop.

Een is dadelik aangekeer terwyl die K9-eenheid kort daarna die tweede verdagte gevang het.

Die verdagtes van onderskeidelik 36 en 37 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn, sê Makhale.

Die polisie het ook op die gesteelde goedere beslag gelê wat in die voertuig gevind is.

‘Ek is baie trots op hom’

Ambulanspersoneel stoot die 44-jarige Ian Coetzee by die Unie-hospitaal in Alberton, Gauteng, in kort nadat hulle hom by sy huis in Vanderbijlpark gestabiliseer het.

Terug by die huis het Elaine druk op haar man se wonde geplaas.

Coetzee is twee keer getref – een koeël is deur sy lies en agter by sy been uit en die ander is deur sy buik.

Die ambulans was binne minute op die toneel.

“Die dokter sê eintlik hy kan dit nie verstaan nie. Nie ’n enkele orgaan of slagaar is getref nie . . . Dit is eintlik ’n wonderwerk,” sê Elaine.

Coetzee het met sy aankoms by die Unie-hospitaal ’n noodoperasie ondergaan om al die bloeding te stop.

“Maar hy is al klaar beter, hulle het hom vandag (Vrydag) na ’n gewone saal oorgeplaas,” sê Elaine.

Weens Covid-19-protokol mag hy egter nie besoek word nie.

As alles goed afloop, kan hy dalk net-net betyds terug by die huis wees vir Vadersdag.

“Daai boksie tjoklits (vir Vadersdag) lyk nou ’n bietjie klein . . . Dit is darem ’n goue boksie,” spot sy.

Meer oor:  Gauteng  |  Vanderbijlpark  |  Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.