
Malusi Gigaba en sy vrou, Norma Foto: Gallo Images
Norma Gigaba, vrou van die voormalige minister van finansies Malusi Gigaba, sal Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van crimen injuria, kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding nadat sy Saterdag uit die polisieselle vrygelaat is.
Volgens haar prokureur hoes sy nou baie omdat sy ’n aand in die selle moes deurbring.
Gigaba is Vrydag op klagte van beweerde aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem.
Sy is Saterdag uit die Brooklyn-polisiekantoor vrygelaat nadat sy borgtog betaal het.
Victor Nkwashu, Gigaba se prokureur, het bevestig sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Volgens hom het haar man, Malusi, en sy vriend Peterson Siyaya die saak aanhangig gemaak.
“Sy is in ’n opgewekte bui omdat sy die kinders gaan sien. Sy hoes net baie omdat sy die nag in die selle moes deurbring,” het Nkwashu gesê.
“Ons moet nog die klagstaat en die dossier sien,” het hy bygevoeg. Hy wou nie kommentaar lewer waarom die Valke by die saak betrek is nie.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het Vrydagaand gesê ’n verdagte is aangekeer nadat ’n lasbrief uitgereik is. - News24