Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
G'n 'ekskuus' vir stamp, toe word student gekaap

Die 19-jarige meisie wat Saterdagmiddag in ’n kapingsdrama in Johannesburg betrokke was, het gedink die “mense wat pas in haar vasgery het, kom om verskoning vra”. Die volgende oomblik het die een ’n vuurwapen op haar gerig.

So vertel Ester van Rensburg, 'n huisvriend van die gesin. Die oftalmologie-student van die Universiteit van Johannesburg was op pad na Van Rensburg toe haar motor voor ’n veiligheidshek in die Bergbron-woongebied in Randburg gekaap is.

Van Rensburg praat op voorwaarde dat die Namibiese meisie se identiteit weerhou word.

Die volgende oomblik het hulle aan haar ruite begin hamer.

“Sy het omstreeks 16:00 voor die veiligheidshek van die straat gestop en was op haar selfoon besig om ons te bel om oop te maak toe die BMW X3 haar van agter af stamp. Sy het gesien twee mans klim uit en het gedink hulle kom om  verskoning vra vir die stamp. Die volgende oomblik het hulle aan haar ruite begin hamer,” vertel Van Rensburg.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval is op sosiale media versprei.

Een van die verdagtes, met ’n handwapen, skreeu en beduie vir die meisie om haar deur oop te maak.

Die ander verdagte probeer intussen die deur aan die passasierskant oopruk. Hy spring naderhand op die enjinkap en probeer die voorruit uitslaan.

Volgens Van Rensburg het die motor ruite van splintervrye glas.

Die gewapende man skiet dan die ruit aan die bestuurderskant uit, ruk die deur oop en pluk die meisie aan haar hare en baadjie uit die motor.

Van Rensburg vertel die meisie het binne die motor gekoes toe die geweerskoot afgaan en gegil, maar niemand kon haar hoor nie. Daar is volgens haar glo minstens twee skote afgevuur.

In die video kan gesien word hoe sy buite haar voertuig huil, nog gil en haar gesig probeer beskerm.

Een van die verdagtes spring dan in haar voertuig en jaag weg.

Van Rensburg sê die bure wat die slag van die stamp gehoor het, was binne minute buite by die paniekbevange meisie in die straat.

Die voertuig is later in Tembisa aan die Oos-Rand gevind.

Volgens Van Rensburg het die Tracker-opsporingsmaatskappy die motor skaars 40 minute later gevind.

Die meisie se skootrekenaar, haar beursie en alle ander besittings wat in haar kattebak was toe die motor gesteel is, was steeds daar, aldus Van Rensburg.

“Dit gaan nie vanaand goed met haar nie,” sê Van Rensburg, wat die meisie en haar broer, ’n student van die Noordwes-Universiteit, huisves totdat hul ouers Donderdag van Namibië af kom.

“Sy is baie sterk, maar het vanaand ’n bietjie gecrack.” Volgens Van Rensburg het die meisie reeds traumaberading ontvang en wil sy Maandag weer soos normaal klas toe gaan.

Kapt. Kulani Mathebula, ’n polisiewoordvoerder, het Sondag bevestig dat die kaping ondersoek word. Teen Sondag is nog niemand in hegtenis geneem nie.

Klik hier om na die video te kyk. 

Meer oor:  Johannesburg  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.