Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘G’n moordenaar van wittes, asb.’

’n Pretoriase advokaat het in ’n uiters ongewone stap in die openbaar verklaar dat hy nie meer swart kliënte wat aangekla word van die moord op wit mense, gaan verteenwoordig nie.

Adv. Westley Barnard Foto: Facebook

Adv. Westley (Coke) Barnard het Woensdag op Facebook geskryf: “Ek onderneem vandag om geen swart man wat ’n blanke doodmaak, te verdedig in die hof nie.”

Hy sê hy weet hy gaan “duisende rande verloor”, maar is bereid om dit te doen.

Barnard (61) loop egter gevaar om meer as net “duisende rande” te verloor. Die gedragskode van die Regspraktykraad, waarvan alle advokate en prokureurs lede is, bepaal ingevolge sy art. 26.2 dat geen advokaat kan weier om enige persoon te verteenwoordig op grond van die feit dat hy of sy nie met daardie persoon se opinies of beweerde misdryf saamstem nie of weens die negatiewe beeld wat so ’n persoon mag hê.

Barnard se Facebook-boodskap is sedertdien ten minste 1 600 keer gedeel. Sommige mense sê hy verdien ’n medalje.

In sy eie kommentaar oor sy boodskap skryf Barnard dat hy “oorlog verklaar teen die doodmaak van wittes".

“Dit is ook ons land. Ek is bereid om tronk toe te gaan vir die beskerming van my eie mense.”

Barnard het by navraag aan Rapport gesê hy staan by sy inskrywing. Hy het voorsien die inskrywing sal ’n opskudding veroorsaak en dat “swart regters en landdroste op my kop sal spring”, maar hy het teen Vrydagmiddag nog nie ’n oproep uit regskringe ontvang nie.

Hy sê twee onlangse moorde – dié op Annette Kennealy (50), die kampvegter teen plaasmoorde, en die oudonderwyseres Linda Breytenbach (66) het hom laat besluit “genoeg is genoeg”.

Hy het besluit om op te tree, “want niemand beskerm ons wit mense nie".

"Ek wil nie hê dat my kultuur uitgemoor word nie. Ek kan dit nie toelaat nie.”

Barnard is ’n onafhanklike advokaat van Pretoria en glo dat dit “sy reg is om te besluit wie sy kliënte is”.

“Ek haat nie swart mense nie, maar ek moet iets doen om die wit mens te beskerm in Suid-Afrika.”

Hy benadruk dat hy nie “haatdraend” is teenoor swart mense nie. Dit, sê hy, blyk duidelik daaruit dat hy saans klasgee aan swart nagraadse studente om hulle voor te berei vir die prokureurs- en advokaatberoep.

Op Barnard se Facebook-blad is ’n foto van hom saam met Mo­siuoa Lekota, Cope-leier. Barnard sê hy het Lekota op Robbeneiland ontmoet waar hy (Barnard) as ’n 16-jarige tronkbewaarder gewerk het. Hy het ’n meestersgraad in arbeidsreg en ’n honneursgraad in kriminologie en praktiseer al byna 15 jaar as advokaat.

“Ek het geen probleem met die politieke gevangenes van destyds nie. My politieke oortuigings was nog altyd dié van billikheid en regverdigheid.”

Adv. Johann Engelbrecht SC, strafregspesialis van Pretoria, sê dit is die eerste keer dat hy so ’n uitlating uit die mond van ’n regspraktisyn hoor.

“ ’n Advokaat mag nie ’n opdrag weier nie, tensy hy nie beskikbaar kan wees vir die saak nie of die saak in ’n hof verhoor word waar hy nie gewoonlik optree nie.”

Die Regspraktykraad het teen druktyd nie op skriftelike navrae gereageer nie.

Meer oor:  Advokaat  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.