Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘God gee 2de kans’

Hulle kon nou voor ’n oop graf gestaan het, maar God het hul seun ’n tweede kans gegee. Daarom is alles nou in sy hande, sê Sanet Slimmert, wie se seun Anzel verlede Sondag sy rug gebreek het nadat hy uit ’n Matie-badkamervenster in ’n koshuis geval het.

Sanet Slimmert. Sy is pal langs haar seun se bed. Foto: Edrea du Toit

Die 20-jarige Anzel van Vredendal aan die Weskus lê tans in die hoësorgeenheid van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.

Anzel, ’n goeie sportman, het onlangs nog in die o.63 kg-afdeling van die Suid-Afrikaanse skopboksvereniging deelgeneem. Hy het ook onlangs aansoek gedoen om by die weermag aan te sluit.

Anzel het verlede Sondag in die vroeë oggendure uit die badkamervenster van ’n studentevriend se kamer op die derde verdieping van Huis Marais op Stellenbosch geval en ernstige rugbeserings opgedoen.

Dr. Juliette Stander het Vrydag aan Rapport gesê Anzel het frakture van die tiende- en elfde rugwerwels. Die werwels het sodanig verskuif dat die rugmurg beskadig is. Hy het tans geen gevoel en beweging in die onderlyf nie.

‘My kind het seker vier ure daar gelê.’

Slimmert sê sy is verlede Sondag “uit die kerk gehaal” met die nuus dat iets met haar seun gebeur het. Anzel was Saterdag saam met familie by ’n begrafnis in die Paarl en het daarna vir sy vriend Emile Kriel op Stellenbosch gaan kuier.

Sanet is pal langs haar seun se bed. Hy is Dinsdag vanaf die Tygerberg-hospitaal na Groote Schuur oorgeplaas.

Sy sê sy het nog nie kans gehad om Kriel “reguit te vra” wat gebeur het nie.

“Inligting gee kennis en sal help om afsluiting en vrede te kry,” sê sy.

Anzel Slimmert het glo uit ’n badkamervenster op die derde verdieping geval, die teëldak laer af getref en op die grond beland. Foto: Edrea du Toit

Wat sy wel gehoor het, is dat Anzel en Kriel Saterdagaand by ’n klub gekuier en ’n bier of twee gedrink het. Die twee het later “hand om die lyf” koshuis toe gestap. “Wat hierna gebeur het, weet ons nie. Anzel sê hy kan niks onthou nie,” sê sy.

Anzel se skoene is langs mekaar langs die toilet gevind. ’n Familielid wat ’n speurder is, het langs die skoene gaan staan, toe pas die venster hom by die kop, sê Sanet. “Toe hy bo op die toilet gaan staan, toe pas die venster hom borshoogte. Hóé Anzel daar uit is, weet ons nie.

“Hy het ver geval en ’n klein dakkie laer af getref. ’n Stuk teël het losgebreek op die grond gelê.

“My kind het seker vier ure daar gelê. ’n Vriend sê hy het Anzel so halftwee gebel. Niks. Sy foon het op voicemail gegaan. Dit was koud. Anzel het ’n dun trui aangehad. ’n Security het hom so 6:00 gekry.”

Anzel Slimmert en Emile Kriel

Anzel word Maandagoggend geopereer in ’n poging om sy rugwerwels met skroewe en plate te heg.

Stander sê haar pasiënt is “in goeie gees en positief”.

Sanet sê Taylië Jaap, die meisie wat op 26 Mei vanjaar ook by ’n koshuisvenster uitgeval het, is ’n “lig vir ons – ons kan uit haar geval leer, dat iewers gekyk moet word na veiligheid en strenger reëls by die koshuise”.

Die 19-jarige Jaap is ’n BSc-student in haar eerste jaar en van Lambertsbaai aan die Weskus.

Rapport het vroeër berig dat Jaap kort ná middernag met vriende van die Neelsie-studentesentrum na Huis Serruria teruggekeer het. Sy het kort hierna uit ’n vriendin se kamervenster op die tweede verdieping geval.

Jaap is intussen uit die hospitaal ontslaan. Sy het ’n opgehewe letsel aan haar linkerslaap en sukkel nog met haar oogkoördinasie.

Die 18-jarige Matie Leandró Hop­ley is verlede week dood nadat hy glo in sy kamer verstik het. Hy het vroeër die aand by die koshuiskroeg gekuier.

Hy was van Vredenburg en ’n BCom-student in bestuurswetenskappe.

Hopley sou volgens bronne vroeër spog dat hy ’n “drink-rekord” sou breek. Dié feite word deur sy ouers en die koshuisbestuur betwis.

’n Wynfees wat Saterdag by die koshuis gehou sou word, is weens die tragiese voorval afgestel.

In ’n vierde ongeluk by ’n Matie-koshuis vanjaar het die 41-jarige skoonmaker Eric Matthys van Idasvallei vier weke gelede op die trappe van die koshuis Dagbreek geval. Hy is later aan sy kopbeserings oorlede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.