Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
God was by haar, sê vrou wat met kookwater gemartel is

Sy was nie bang nie, want God was by haar, sê ’n 74-jarige vrou wat in ’n aanval op haar kleinhoewe oos van Pretoria met kookwater gebrand en gemartel is.

Ansu de Villiers verduidelik Donderdag hoe ’n rower die loop van ’n vuurwapen teen haar voorkop geplaas het. Foto: Felix Dlangamandla

Ansu de Villiers sê die Here het haar Dinsdagaand beskerm toe vier rowers, vermoedelik deel van ’n sindikaat, op haar kleinhoewe in die Boschkop-omgewing toegeslaan het.

Haar neef Gerhard Kritzinger (64) is in die aanval doodgeskiet. Kritzinger en sy vrou, Rina (64), het die afgelope paar maande by De Villiers op die kleinhoewe gebly nadat haar man aan kanker dood is.

De Villiers was omstreeks 20:00 in die slaapkamer toe Rina vanuit die leefvertrek gil waar sy en Kritzinger televisie gekyk het.

Altesaam vier rowers met klapmusse op het die huis binnegekom nadat hulle ’n sleutel van die voordeur glo met ’n draad deur een van die kamervensters in die hande kon kry.

“Ek het die slaapkamerdeur oopgemaak en die volgende oomblik het ’n man voor my gestaan. Hy het sy pistool teen my voorkop gedruk. Ek het na die Here geroep. Toe het die man die pistool in sy sak teruggesit,” sê De Villiers.

Sy het nie geweet Kritzinger is toe reeds dood nie. Een van die rowers het hom trompop in sy regterarm geskiet en die koeël is deur een van sy longe.

Die rowers, van wie een grys velskoene en ’n pienk broek aangehad het, het koorde van lampe oopgesny en die drade gebruik om De Villiers en Rina mee vas te bind. De Villiers is met ’n geweer teen haar slaap geslaan.

Toe het die rowers begin plunder.

Ansu de Villiers, wat positief bly ná ’n aanval op haar kleinhoewe, het verbande op haar bene op die plekke waar sy met kookwater gebrand is. Foto: Felix Dlangamandla

“Hulle het kussings oopgesny en skilderye van die mure afgehaal om vir waardevolle goed te soek,” sê sy.

Toe De Villiers nie vir hulle wou sê waar die sleutel van die kluis is nie, het een van die rowers die ketel in die kombuis gaan aanskakel.

Die rower het die kookwater oor haar bene uitgegooi. Sy het geweier om hom te sê dat die kluis, waarin vuurwapens en kontant was, se sleutel in een van haar handsakke is.

Ansu de Villiers sê sy is nie bang nadat sy in ’n aanval op haar kleinhoewe gemartel is nie. Sy het ’n wond op haar linkerslaap nadat sy met ’n vuurwapen daar geslaan is. Foto: Felix Dlangamandla

“Ek sou nie toelaat dat hulle die gewere in die hande kry en dit gebruik om iemand anders dood te maak nie. Die Here het my gehelp,” sê De Villiers.

Volgens haar was die rowers deurgaans op hul senuwees. Sy het weer na die Here geroep waarna die rowers spore gemaak het.

Hulle het met juwele, ’n skootrekenaar en televisie weggekom. Hulle het die selfone in ’n tassie vergeet.

“Ek kry Rina so jammer. Ek het om haar onthalwe gevra dat sy Gerhard (wat op sy maag gelê het) nie moet omdraai nie. ’n Mens kon net die mooi kant sien.”

De Villiers kon ’n veiligheidsmaatskappy in die hande kry waarna sy met ’n ambulans na ’n hospitaal in die ooste van Pretoria geneem is. Sy is Woensdag ontslaan en bly nou by haar dogter.

Konst. Yeroboam Mbatsane, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie ondersoek beweringe dat die rowers deel van ’n sindikaat is.

Volgens De Villiers kry sy baie ondersteuning by familie en vriende.

“Alles sal regkom as almal in Suid-Afrika – wit, swart, pienk en groen – weer op Jesus fokus,” sê sy.

Meer oor:  Ansu De Villiers  |  Pretoria  |  Kookwater  |  Martel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.