Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Goud-losprys in geheimhouding gehul

Die polisie en die mynmaatskapppy Harmony Gold het Donderdag ’n sluier van geheimhouding oor die ontvoering van Charmaine Botha van Welkom in die Vrystaat getrek.

Botha, wie se man, Johnny, by Harmony Gold se goudaanleg werk, is Woensdag glo ontvoer en haar ontvoerders het ’n losprys van ’n goudstaaf geëis.

Hoewel vroeër gesê is Harmony Gold het twee goudstawe as losprys vir Botha se vrylating gegee, wou nie kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, of Sihle Maake, woordvoerder van Harmony Gold, bevestig dat ’n losprys betaal is en indien wel, wat die waarde daarvan is nie.

Charmaine Botha en haar man, Johnny. Johnny se werkgewer, Harmony Gold, het glo twee goudstawe as losprys vir haar vrylating betaal.Foto: Facebook

Thakeng wou nie eens sê of daar ’n ontvoering of gyselaarsdrama was nie en het net bevestig dat Botha nou veilig is.

Hy sê die polisie is besig met ’n ondersoek.

Maake het wel die ontvoering bevestig, maar wou ook niks meer sê nie.

Volgens ’n ingeligte na aan die ondersoek het die sindikaat wat Botha Woensdag ontvoer en ’n losprys van twee goudstawe vir haar vrylating geëis het, uiters professioneel opgetree en hul optrede was haarfyn beplan.

Botha is ontvoer kort nadat sy Woensdagoggend in Welkom by haar werkplek, die prokureursfirma Piet Haasbroek, aangekom het.

Die ontvoerders het haar toe glo in haar motor ingedwing. Die motor is later by die Boitumelo-winkelsentrum in Thabong buite Welkom gevind.

Sy is geblinddoek en na ’n sinkhuis iewers in die township gebring waar sy tot met haar vrylating aangehou is.

Haar ontvoerders het intussen haar man gekontak en hul eise gestel. Hy het onmiddellik sy werkgewer en die polisie in kennis gestel en daar is glo besluit om aan die ontvoerders se eise te voldoen.

Die ontvoerders het glo gereeld van selfone en simkaarte verwissel om te verseker niemand kan vasstel waar hulle is nie.

Botha se selfoon is ook buite werking gestel.

Daar is gereël dat Johnny Woensdagaand van die ontvoerders by die Virgin Active-gimnasium in Welkom ontmoet om hulle met die goudstawe te “betaal”.

Volgens die ingeligte is twee goudstawe geëis, maar net een is oorhandig. Dit is egter onseker of die staaf wat oorhandig is, swaarder is as dié wat aanvanklik geëis is en of die ontvoerders bereid was om ’n kleiner losprys te aanvaar.

Die ander lede van die bende het Botha teruggeneem na die motor wat by die Boitumelo-winkelsentrum geparkeer was.

Die twee groepe was voortdurend in verbinding met mekaar.

Charmaine is nie beseer nie, maar is steeds baie getraumatiseer.

Die egpaar se dogte in gr. 11 is eers oor haar ma se ontvoering ingelig nadat sy haar eksamenvraestel geskryf het.

Dit is nie seker wat die waarde van die goudstaaf sou wees nie, omdat verskillende groottes stawe gegiet word en dit ook afhang van die graad van suiwerheid.

Meer oor:  Harmony Gold  |  Charmaine Botha  |  Gous  |  Ontvoering  |  Losprys  |  Polisie  |  Mynmaatskapppy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.