Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gouws het ‘skreiend’ gedig oor moord op AWB-leier

Die geweld in Suid-Afrika laat verskeie mense se name saamklink in dié wye en droewe land . . .

Só het die skrywer en letterkundige Johann Lodewyk Marais gesê ná die nuus van die moord op die skrywer en digter Tom Gouws.

Tom Gouws

Gouws (56) is Woensdagaand koelbloedig in sy huis in die ooste van Pretoria ten aanskoue van sy vrou, Retha, deur huisrowers doodgeskiet.

“Tom het ’n skreiende gedig oor die moord op Eugene Terre’Blanche geskryf. Dié gedig het vandag eerste by my opgekom toe ek van dié moord gehoor het.

“Ideologies was hy en Terre’Blanche ver uitmekaar, maar die geweld in Suid-Afrika laat hul name saamklink in dié wye en droewe land. Die kruise op die Afrikaanse landskap groei teen ’n ontstellende tempo aan.”

Volgens Marais was Gouws vroeg reeds bekend vir sy akademiese uitnemendheid, wat hom gesogte en belangrike poste in die akademiese wêreld laat beklee het.

“Met sy oratoriese en oorredende vermoë het hy as dosent minstens een noordelike akademiese generasie vir die poësie gewen. Sy entoesiasme was waarlik aansteeklik.

“Gouws was nie bang om koppe te stamp as dit volgens sy oortuiging nodig was nie. Benewens deeglike en skerpsinnige besprekings van ander skrywers se werk kon hy ook skerp oordeel, wat hom enigsins ongewild gemaak het.

“In later jare het Gouws ’n ruimte vir homself buite die akademiese wêreld gaan soek, maar kon tog nie wegkom van die betowering van veral die poësie nie.

“Sy eie digbundels het ’n stygende lyn getoon, maar ook iets van ’n besetenheid met vorm en die woord gehad. Sy onderwerpe het van belesenheid en byna totale onderdompeling getuig.

“Soms was dit asof hy die laaste woord oor ’n sekere onderwerp wou inkry . . .”

Die digter Johan Myburg sê as gevestigde digter is dit Gouws se woordgevoeligheid en sy versigtige inspan van woorde en ritme wat hom sal bybly.

Hy was ook ’n hoogs begaafde digter en skerpsinnige en dikwels waagmoedige resensent, die soort figuur wat die letterkunde op talle terreine verryk het.

Hy verwys ter illustrasie na dié reëls uit “Termiet” in sy debuut, Diaspora (1990): “ . . . weer beur ek langs papiruswortels terug / rysmier ek ondergronds met my tere vlerke / vou ek ons in die intiemer aarde toe / hier geliefde broer is ons een soos eens / bou ons begerig aan ons droom / ontkiem ’n eie okavango in elke korrel sandkristal . . .”

Prof. Angelique van Niekerk, hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê Gouws was ’n inspirerende en invloedryke studieleier.

“Hy was ook ’n hoogs begaafde digter en skerpsinnige en dikwels waagmoedige resensent, die soort figuur wat die letterkunde op talle terreine verryk het.

“Sy dood is ’n geweldige verlies en die manier waarop dit gebeur het, vervul ons met afgryse en weersin.”

Meer oor:  Awb  |  Tom Gouws
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.