Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gouws vertroos vir oulaas meisie kort voor sy dood
Cecile Louw saam met haar kinders (van links) Marisje (10), Anelia (13), Nuach (3) en Andiswa (9).Foto: VERSKAF

Die skrywer en geloofsbediener Tom Gouws het die oggend waarop hy vermoor is  aan ’n tienjarige meisie gesê sy kan gerus met haar oorlede pa praat.

Gouws het in ’n boodskap aan Marisje Louw gesê dat haar pa leef, al is hy dood.

“Jy praat dus nie met ’n dooie nie. Trouens, Jesus sê God is net ’n God van lewendes, nié van dooies nie,” lui sy boodskap aan die hartseer meisie.

Cecile Louw van Durbanville het verlede Vrydag haar dogter se vraag – of dit verkeerd is as sy met haar pa praat – per WhatsApp aan Gouws gestuur.

’n Onderwyseres het glo aan haar gesê sy mag nie, want die Bybel sê mens mag nie met dooies praat nie.

Marisje se pa, Andries, is drie jaar gelede weens breinkanker oorlede.

Marisje het gesê sy vra God soms of sy haar pa in ’n droom mag sien, of dat God ’n boodskap aan hom moet stuur.

Gouws het Woensdagoggend die vraag op die WhatsApp-groep Bybelbaak geantwoord.

Hy is later in sy huis op die Tygerberg Country-landgoed, oos van Pretoria, deur rowers doodgeskiet.

Tom Gouws (56)Foto: VERSKAF

Volgens Louw, ’n ma van vier kinders – Anelia (13), Marisje (10), Andiswa (9) en Nuach (3) – het Gouws se antwoord vertroosting vir hulle gebring.

“Dit was besonders. Ons gesels gereeld oor my man en Marisje se vraag het uit haar hartjie gekom. Sy was ontsteld oor wat haar juffrou vir haar gesê het,” sê Louw.

“Hulle was in trane van blydskap toe ek dit vir hulle lees. Dit is ’n lang boodskap, so ons het dit rustig bespreek en Bybel-versies gelees.

“Dit het Marisje beter laat voel om te weet sy kan met haar pappa gesels, want sy het begin dink die Here gaan haar straf.”

Dit was nie die eerste keer dat Louw se kinders ’n vraag aan “Oom Tom” gestuur het nie. Hulle het hom al voorheen gevra of dit rêrig ’n walvis is wat vir Noag ingesluk het, vertel Louw.

Haar kinders het nooit vir Gouws persoonlik ontmoet nie.

Volgens Louw het haar man en Gouws mekaar wel goed geken.

Gouws het die egpaar ook 14 jaar gelede saam gedoop.

“Tom het my ook gehelp om Nuach se naam te kies, want my man was baie siek terwyl ek swanger was en ek het geweet dat hy ’n Bybel-naam sou wou hê,” sê Louw.

Nuach was twee maande oud toe haar man gesterf het.

“Tom was ’n geestelike mentor vir Andries. Hulle het dikwels geestelik gesels. Hy was vir ons ’n vaderfiguur.”

Louw se kinders was geskok toe sy die nuus oor Gouws se dood aan hulle oordra.

“Hulle wou weet wat gebeur het en al die detail,” sê sy.

Die sanger Karlien van Jaarsveld het Donderdag Gouws se antwoord op Marisje se vraag op Facebook geplaas.

Sy het daarby geskryf: “Oom Tom Gouws se laaste Bybelbaak wat hy gister gestuur het, op sy laaste dag in fisiese realm, nadat hy geskiet is in sy huis in Pretoria-Oos. My hart is seer, oom was soos ’n pa vir my!”

Haar broer, Bobby, het Woensdag getwiet Gouws het hom alles van God geleer wat hy weet.

Lees Gouws se antwoord hier:


Meer oor:  Tom Gouws
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.