Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gr. 9-leerling op pad huis toe verkrag en vermoor

’n Gr. 9-leerling van Germiston in Gauteng is verlede Woensdag eers verkrag en daarna vermoor op pad terug van die skool af in die woonbuurt Elsburg. Daar word verder beweer dat die polisie nie opgetree het toe sy aanvanklik as vermis aangemeld is nie.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Laticia Jansen (15) se familie Sondag in Elsburg besoek.

Sy was ’n leerling aan die plaaslike Graceland Education Centre.

“Sy is op Woensdag 22 Januarie met ’n skerp voorwerp gesteek, verkrag en vermoor in ’n bos naby Elsburg,” lui ’n verklaring deur die provinsiale onderwysdepartement.

Volgens wat die departement kon vasstel het Laticia nie daardie dag van die skool af teruggekom nie. Haar ouma het bekommerd geraak en haar in die buurt gaan soek. Sy het haar die volgende oggend as vermis aangemeld by die polisie, maar is glo gevra om terug te kom met ’n foto van Laticia.

“Ongelukkig is niks verder gedoen nie,” lui die departement se verklaring.

Die ouma het haar kleinkind daarna as vermis by die skool aangemeld en hulle het bevestig dat sy nie by die skool is nie.

“Dit is ook kommerwekkend dat die skool niks gedoen het om die voog by te staan nie.”

Die ouma het Vrydag ander inwoners gevra om te help en hulle het met die hulp van honde ’n soektog van stapel gestuur. Hulle het toe Laticia se lyk gekry, wat glo ook aan die brand gesteek is.

“Dis hartseer dat die ouma toe na die Elsburg-polisiekantoor moes terugkeer om hulle in kennis te stel van die gru-ontdekking,” lui die departement se verklaring.

Lesufi het met die besoek aan Laticia se naasbestaandes uitgevind ’n groep leerlinge van Dukathole in Germiston is Woensdag agtergelaat deur die onderwysdepartement se vervoer.

“Dit klink of die groep vir Laticia weggeloop het terwyl hulle huis toe gestap het toe sy gesukkel het met haar swaar tas. Dit was die laaste keer dat die ander kinders haar gesien het.”

Lesufi het met sy besoek gesê hy sal beslissend optree as ’n ondersoek bevind dat die skool verkeerd opgetree het.

“Daar word beweer die vervoer wat die departement reël het ’n neiging om vroeër te ry as wat hulle moet en leerlinge agter te laat, wat ’n ernstige bekommernis is. Ons gaan die presiese omstandighede ondersoek,” sê hy.

’n Span beraders besoek Maandag die skool om die leerlinge, personeel en familie te ondersteun.

Die polisie het bevestig ’n moordsaak word ondersoek.

In ’n verklaring sê brig. Mathapelo Peters, provinsiale woordvoerder, die saak is geopen ná die “grusame ontdekking Vrydagoggend 24 Januarie van die lyk van ’n 15-jarige meisie in ’n veld".

Die meisie se lyk is tussen Brugstraat en die N17 in Elsburg in die weste van Ekurhuleni gekry.

“Die polisie is deur ’n familielid in kennis gestel van die lyk en met hul aankoms op die toneel het die polisie bevestig die 15-jarige slagoffer is vermoor.”

’n Nadoodse ondersoek sal meer inligting oor haar beserings gee, sê die polisie.

Die polisie soek die verdagte of verdagtes en doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom. – Verwerk deur Ilse Schoombee

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.