Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Graaff-Reinet: Diewe steel helpers se boortoerusting

“Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dit was die reaksie van dr. Gideon Groenewald, hidroloog van Gift of the Givers, nadat diewe oornag boortoerusting van dié noodlenigingsorganisasie in Graaff-Reinet gesteel het.

Vroeër is berig dat die waterkrisis in dié dorp so groot is dat inwoners oor water baklei en noodgedwonge rioolwater vir huishoudelike gebruik moet skep.

Gift of the Givers het Dinsdag die eerste van sewe boorgate in dié Karoo-dorp begin sink om die waternood te probeer verlig. “Die span het tot Dinsdagaand laat gewerk,” sê Groenewald.

Die boorspan werskaf op die terrein van die Spandau Sekondêre Skool in Graaff-Reinet.Foto: Gideon Groenewald

Ali Sablay, projekbestuurder, sê die span het Woensdagoggend ontdek daar is oornag diesel, gespesialiseerde moersleutels en ander boortoerusting gesteel. Hulle was besig om ’n boorgat op die terrein van die Spandau Sekondêre Skool te sink.

“Ons boor vir water op skoolterreine, sodat kinders onmiddellike toegang tot water het,” sê Groenewald.

Die boorspan het tot laatnag op die skoolterrein gewerk. Foto: Gideon Groenewald

Hy sê die diefstal sal nie hul werk tot stilstand bring nie.

“Ons werk met sewe bore. Ons het klaar alles vervang. Gift of the Givers vat nie nonsens nie. As iemand goed steel, het hulle dit meer nodig as ons. Ons maak dus nie ’n ophef oor onbenullige mense nie.”

Corene Conradie van die Graaff-Reinet Waterkrisisgroep is ontsteld oor die diefstal.

“Gift of the Givers het ons kom help, en dít is die dank wat hulle kry. Enigiemand met inligting moet asseblief die polisie onverwyld kontak,” sê Conradie.

Die boor op die skoolterrein is Woensdag 24 m noord geskuif, nadat hulle op 40 m met die eerste gat gestop het. Volgens Groenewald sou hulle teen Woensdag om 14:00 uitsluitsel hê of dié boorgat ’n raakskoot is.

Meer oor:  Graaff-Reinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.