Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Graan SA: Mathews praat oor aanval op sy plaas

Dit is onaanvaarbaar dat ’n mens so iets in ’n beskaafde land moet beleef.

Derek Mathews. Foto: Alet van der Walt

So het Derek Mathews, visevoorsitter van Graan SA, Maandag gesê terwyl hy en sy familie nog tot verhaal gekom het ná ’n plaasaanval Saterdagaand op sy plaas naby Sannieshof in Noordwes.

Niemand in die familie is ernstig beseer nie, hoewel die aanvallers hulle hardhandig behandel het. Mathews sê die plaas, waar hy met graan en beeste boer, is al 100 jaar in hul familie en dat dit die eerste keer is dat so iets gebeur. “My oupa het die huis hier in 1920 gebou.”

Volgens Mathews is hy en sy familie sedert die aanval oorweldig deur “die ongelooflike ondersteuning” van die gemeenskap.

Hy, sy vrou, Karin, hul twee kinders, skoonseun en ander familie het Saterdagaand ’n ooievaarsparty vir sy dogter, Gail Buys, gehou. Die baba word oor vyf weke gebore.

“Die deure was oop terwyl ons gebraai het,” sê Mathews. Gail se man, Louis, haar broer, Michael, en sy verloofde, Maxine Marais, asook Mathews se neef, John Mathews en sy vrou, Jenny, het saam gekuier.

Vyf mans het die huis omstreeks 22:30 gewapen met pistole binnegestorm.

“Van hulle was gemasker,” sê Mathews. “Hulle het ons op die vloer laat lê en ons hande en voete (met tou) vasgebind. Ek is seker dit was buitelanders, want hulle het nie in ’n Afrikataal wat algemeen in die omgewing is, gepraat nie. Met ons het hulle Engels gepraat, en soms ook onder mekaar. Die aanvallers het aangedring op geld en wapens. Hulle het aggressief en hardhandig geword omdat ons nie een van die twee in die huis gehad het nie. Die kluis was leeg en nie eens gesluit nie.”

Eindelik het die rowers die bietjie kontant wat in die huis was, al die vroue se juweliersware, selfone, skootrekenaars en Mathews se oupa se oorlogsmedaljes op die kaggel gesteel.

“Gail het naderhand haar bankkaart met die geheime nommer vir hulle gegee,” sê Mathews.

“Dit het hulle gepaai, want kort daarna het hulle iemand gebel wat hulle kom haal het. Hulle het ons weer ’n keer styf vasgebind voordat hulle weg is, om seker te maak ons kom nie te gou los nie.”

Mathews sê die aanvallers het R5 000 uit Gail se bankrekening onttrek. “Ons wil niks meer van die voorval maak as wat dit is nie. Dit sou egter wys wees om berading te kry. Alles is nog baie vars, ons is nog in die proses om te beplan hoe ons die gebeure gaan verwerk.”

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof. Niemand is Maandagmiddag nog in hegtenis geneem nie.

Jacqueline Theologo, die DA se woordvoerder oor landbou en landelike ontwikkeling in Noordwes, sê die ANC laat steeds landelike gemeenskappe in die steek deurdat die regering sien hoe boere en hul plaaswerkers vermoor en wreed aangeval word, maar landelike veiligheid steeds nie as ’n prioriteitsmisdaad wil laat verklaar nie.

“Die polisie het die stryd teen misdaad verloor. Ons het ’n beter opgeleide en toegeruste polisiemag nodig om gemeenskappe te dien.”

Theologo sê die DA vra dat die regering landelike veiligheids- en gespesialiseerde polisie-eenhede op die been bring.

“Ons gaan ’n plan van aksie vir gemeenskapsveiligheid in die Noordwes- provinsiale wetgewer voorlê.”

Meer oor:  Graan Sa  |  Derek Mathews  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.