Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Grace Mugabe: Ondersoek opgeskort hangende aansoek
Grace Mugabe, presidentsvrou van Zimbabwe, het Gabriella Engels na bewering in haar hotelkamer aangerand. Die polisie ondersoek die klag.

Die polisieondersoek na die beweerde aanranding van ’n 20-jarige model deur Grace Mugabe, presidentsvrou van Zimbabwe, is opgeskort hangende haar aansoek om diplomatieke immuniteit teen vervolging.

“Ons het ’n note verbale van die Zimbabwiese regering ontvang om te sê die Zimbabwiese presidentsvrou wil om diplomatieke immuniteit aansoek doen,” sê Nelson Kgwete, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco).

“Daardie versoek word tans oorweeg en geen besluit is tot dusver geneem nie.”

’n Note verbale is volgens die Merriam-Webster- woordeboek Frans vir “ ’n diplomatieke nota, meer formeel as ’n aide-mémoire en minder formeel as ’n nota, dit word in die derde persoon voorberei en word nooit onderteken nie”.

Die polisie het ook ’n note verbale ontvang, sê brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder. “Ons ondersoek is afgehandel, maar ons het ’n note verbale ontvang wat aandui die verdagte in hierdie saak het om diplomatieke immuniteit aansoek gedoen.

“In die lig hiervan is besluit om die ondersoek voorlopig te staak.”

Die regsmaatskappy Hurter Spies, wat namens die burgerregteorganisasie AfriForum optree, het Donderdagmiddag aan Maite Nkoana-Mashabane, minister van Dirco, geskryf om Mugabe se aansoek te betwis.

Die minister word in die skrywe herinner dat nie eens ’n staatshoof immuniteit geniet teen die jurisdiksie van Suid-Afrikaanse howe in sake wat verband hou met die besering van enige persoon nie.

Hurter Spies sê dit sal om verskeie redes onbehoorlik en irrasioneel wees indien diplomatieke immuniteit toegestaan word.

Mugabe was nie op amptelike besoek in Suid-Afrika nie, maar het die land vir mediese en sakedoeleindes besoek, sê Hurter Spies.

Debbie Engels en haar dogter, Gabriella Engels, wat na bewering deur Grace Mugabe aangerand is, Donderdag op ’n mediakonferensie in Centurion. Foto: DEAAN VIVIER

Volgens die maatskappy is bewerings dat Mugabe die konferensie van leiers van SAOG-lande in Pretoria saam met haar man, pres. Robert Mugabe, sou bywoon, ’n “nagedagte om die strafregtelike proses te dwarsboom en die beginsels van diplomatieke immuniteit te misbruik”.

Kgwete sê hy is nie bewus van die brief nie en weet nie of die minister dit al ontvang het nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, staan Gabriella Engels, slagoffer van die beweerde aanranding by.

Engels beweer Mugabe het haar Sondag omstreeks 21:00 by ’n hotelkamer in Sandton voor haar lyfwagte aangerand.

Engels het glo by Mugabe se twee seuns Rob Junior en Bellarmine Chatunga gaan kuier toe Mugabe haar herhaaldelik met ’n elektriese koord bygekom het.

Sy was glo in dieselfde hotel, maar in die kamer langs dié van Mugabe se twee seuns saam met ’n gemeenskaplike vriend.

“ ’n Mens voel magteloos as jy die slagoffer is van geweld deur ’n persoon soos mev. Mugabe, wat ’n magsposisie beklee. Dit is gerusstellend dat mense soos adv. Nel en AfriForum bereid is om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê Engels in ’n verklaring.

Fikile Mbalula, minister van polisie, sê amptenare by Suid-Afrika se grensposte het opdrag gekry om op die uitkyk vir Grace Mugabe te wees.

Mugabe het oorspronklik met die polisie ooreengekom om in die hof op aanklagte van aanranding te verskyn, maar het nooit opgedaag nie.

Meer oor:  Immuniteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.