Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
GRAFIKA: ‘Hulpelose’ polisiekantore rot en kaal besteel

Die toename in die inbrake en rooftogte by polisiekantore in Gauteng is kommerwekkend en moet dringend op die hoogste vlak in die polisie aandag kry.

Só het prof. Rudolph Zinn, polisiekundige van Unisa, Dinsdag gesê in reaksie op die nuus dat 136 gevalle van inbrake en rooftogte in die afgelope vyf jaar by 29 polisiekantore in dié provinsie voorgekom het.

Volgens Zinn gaan die inbrake en rooftogte in baie gevalle nie oor selfverryking nie, maar eerder om van bewysstukke ontslae te raak.

Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het dié syfers in antwoord op die geskrewe vrae van Michael Shackleton, DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Gautengse wetgewer, verskaf.

By polisiekantore in Evaton (naby Vanderbijlpark en Vereeniging) en Vosloorus aan die Oos-Rand was daar in hierdie tydperk 16 voorvalle van inbrake en rooftogte, 13 by die Pretoria-Sentraal-polisiekantoor en tien by die Dobsonville-polisiekantoor in Soweto.

Hoewel 41 verdagtes aangekeer is, is net vier uiteindelik skuldig bevind.

Shackleton sê dié inligting dui op die polisie se onvermoë om na die veiligheid van die inwoners van dié provinsie om te sien.

polisiekantore, diefstalle

“Dié lae inhegtenisnemingsyfer is heeltemal onaanvaarbaar en ’n duidelike bewys daarvan dat óf die regstelsel óf die polisie se onvermoë om die voorvalle behoorlik te ondersoek, vir dié fiasko verantwoordelik is.

“Die gebrek aan behoorlike ondersoeke het al daartoe gelei dat talle sake weens ’n gebrek aan genoegsame bewyse om ’n suksesvolle skuldigbevinding te verseker, van die hofrol verwyder moes word,” sê Shackleton in ’n verklaring.

Die polisie het Gautengers verseker hy bly daartoe verbind om die provinsie se inwoners veilig te hou en misdaad in al sy vorme te beveg.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdagaand gesê inbrake en rooftogte by polisiekantore is grootliks “opportunisties en sporadies van aard”.

Zinn sê die syfers wat Mazibuko bekend gemaak het, is waarskynlik aanduidend van ’n groter probleem.

“Dit wys ook daar is by die misdadigers ’n soort van ‘arrogansie’ betrokke omdat hulle die polisie al hoe minder vrees. Dit vertel die storie dat die polisie nie werklik doeltreffend is nie.

“Die misdadigers beskou dit ook so. Navorsing wat ons onder gevangenes gedoen het, bevestig dit. Die misdadigers besef die polisie is nie baie doeltreffend nie.”

Die grootste bekommernis is, wat word by polisiekantore gesteel en geroof?

Inbrake en diefstalle by polisiekantore is nie noodwendig ’n nuwe verskynsel nie. Dit verskil wel in dié opsig dat dit in die verlede baie minder gebeur het en daar ’n betreklik goeie oplossingsyfer van dié voorvalle was,” sê Zinn.

“Hierdie skerp toename en skokkende oplossingsyfer is kommerwekkend. Ons praat hier van gemiddeld 27 inbrake en rooftogte per jaar in die laaste vyf jaar.

“Wat ook kommerwekkend is, is die polisie se onvermoë om sy eie geboue en persele te beveilig.”

Zinn sê baie vrae word gevra oor die gebruik van private veiligheidsmaatskappye om die polisie se geboue en persele op te pas.

“Die grootste bekommernis is, wat word by polisiekantore gesteel en geroof?

“Dit is gewoonlik waardevolle items soos geld van mense wat boetes betaal. In die verlede was dit die meerderheid van die goed wat gesteel is.

“Daar is nou ook wapens wat by die polisie geroof word en wat in ander rooftogte gebruik word.

“Dan is daar ook dwelms en ander bewysstukke wat uit die bewysekantoor, die sogenaamde SAP13-stoor, gesteel word.

“Hier is nog baie onbeantwoorde vrae. Dit verg baie dringende aandag van die polisie se hoogste gesag.”

Peters sê die inbrake en rooftogte wys hoe astrant misdadigers geword het en tot watter mate hulle sal probeer om die staat se gesag te ondermyn.

“Dié voorvalle moet net soos die aanvalle en moord op polisiebeamptes ten sterkste veroordeel word.”

Meer oor:  Faith Mazibuko  |  Prof. Rudolph Zinn  |  Gauteng  |  Rooftoge  |  Polisiekantore  |  Bewysstukke  |  Diefstal  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.