Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Grey meld bewerings van seksuele wangedrag teen oudonnie aan

Die kopieskrywer van Johannesburg wat ’n sakeman en oudonderwyser van molestering en verkragting beskuldig, is in kontak met die polisie oor ’n ondersoek.

Deon Wiggett, die kopieskrywer, publiseer die bewerings in ’n podsending op sy webwerf, My Only Story, wat in samewerking met News24 opgeneem en ook op hul webwerf gedra word.

Wiggett het Donderdag in die tweede episode van My Only Story bekend gemaak dié onderwyser het by Grey-kollege in Bloemfontein skool gehou.

Hoewel dié seunskool volgens News24 nie kennis dra van bewerings van seksuele wangedrag teen die oudonderwyser nie, het die skool die saak by die Vrystaatse onderwysdepartement aangemeld.

Op Netwerk24 se vraag of Wiggett al strafregtelike klagte teen die man ingedien het, het Jenny Griesel, ’n skakelbeampte, namens Wiggett gesê hy werk saam met die polisie.

In die eerste episode verlede Donderdag het Wiggett die verhaal ingelei deur te beweer ene Jimmy* het hom en ander seuns 20 jaar gelede gemolesteer en verkrag.

In die tweede episode reis Wiggett na Grey om nog inligting in te samel en moontlike “slagoffers” op te spoor.

Wiggett praat in dié episode met ene Matthew*, ’n oudleerling, wat vertel Jimmy het hom “heel onskuldig” oortuig om sy broek af te trek.

“Matthew sê: ‘Ek was tóé so naïef, ek …’ en toe stop hy skielik in die middel van die sin … ‘Dis al wat gebeur het, ek moet nou gaan . . .’ ” sê Wiggett in die podsending.

Ek was tóé so naïef, ek …’ en toe stop hy skielik in die middel van die sin … ‘Dis al wat gebeur het, ek moet nou gaan . . .’

Dis ook die laaste keer dat Wiggett van Matthew gehoor het.

Nadat hy met talle oudleerlinge oor Jimmy probeer kontak maak het, het hy op ’n dag blykbaar ’n telefoonoproep ontvang.

“Ek kan jou alles vertel…” het die persoon glo gesê. Die tweede episode van die podsending onthul nie wat hierdie vertelling toe behels het nie.

Deon Scheepers, skoolhoof van Grey, het aan News24 gesê die skoolgemeenskap is geskok deur die bewerings teen die oudonderwyser.

“Ons hoop dat die voorval deeglik deur die owerhede ondersoek sal word en dat, indien daar enige meriete in die bewerings is, die skuldige party gestraf sal word. Niemand by Grey-kollege keur dit goed nie en die skool sal volkome saamwerk.

“Die bewerings is ook onder die onderwysdepartement se aandag gebring,” het Scheepers aan News24 gesê. Volgens hom het hy nie tevore daarvan kennis gedra nie.

Henry Buchner, voorsitter van die skool se beheerraad, het ook nie kennis van die voorval nie.

Ons hoop dat die voorval deeglik deur die owerhede ondersoek sal word en dat, indien daar enige meriete in die bewerings is, die skuldige party gestraf sal word.

Ingo Machts, ’n onderwyser en koshuishoof by Grey wat destyds saam met Jimmy op die personeelkorps was, het aan News24 gesê hy was nie bewus van enige klagtes teen Jimmy nie.

Dr. Michau Heyns, wat van 1980 tot 1992 die skoolhoof was, kon met News24 se navraag ook nie vir Jimmy onthou of onthou watter omstandighede daartoe gelei het dat hy by die skool weg is nie.

Die derde episode van Wiggett se verhaal word volgende Donderdag uitgereik.

*Skuilname

In ’n ander voorval in Julie vanjaar het ’n oudleerling van Grey-kollege Primêr in Bloemfontein ’n eis van R20 miljoen teen die skool en sy beheerraad ingedien nadat ’n manlike onderwyser hom glo as gr. 7-leerling gemolesteer het.

Luister hier na die podsending


Meer oor:  Grey-Kollege  |  Deon Wiggett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.