Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Molestering glo stilgehou, onnie is stil-stil in 1990 laat gaan
‘Grey swyg oor seks met seun’

Onderwysers van een van die land se voorste seunskole word daarvan beskuldig dat hulle die seksuele aanranding van ’n seun by die skool toegesmeer het en die onderwyser wat hiervan beskuldig is stil-stil laat gaan het sonder om ooit die saak by die owerhede aan te gee.

Willem Breytenbach in Februarie vanjaar by die hof. Foto: Brenton Geach

Johan Volsteedt, die legendariese skoolhoof van Grey-kollege in Bloemfontein, is een van vier onderwysers wat in ’n nuwe boek daarvan beskuldig word dat hulle geweet het van die molestering van minstens een koshuisleerling by die skool 30 jaar gelede.

Die onderwyser wat die seuns na bewering gemolesteer het, was Willem Breytenbach, wat later ’n senior bestuursposisie by Media24 beklee het en verlede jaar in hegtenis geneem is op aanklagte van seksuele aanranding en verkragting. Hy is op borgtog van R50 000 vrygelaat.

In sy boek ’n Enkele verhaal: Die jag op ’n reeksverkragter probeer die joernalis en skrywer Deon Wiggett, wat beweer dat hy self deur Breytenbach verkrag is toe hy 17 jaar oud was, om die voormalige onderwyser se spoor te volg.

Wiggett beweer dat Breytenbach by minstens drie skole waar hy onderwys gegee het kinders gemolesteer het. Die meeste van dié kinders het egter destyds geswyg oor wat met hulle gebeur het en nooit vir enige volwassene daarvan gesê nie.

‘Selfver­troue is van jou gesteel.’

Een 15-jarige leerling van Grey-kollege – na wie hy verwys as “Seun Zero” of Joshua Grootes (’n skuilnaam) – het wel vir sy ouers vertel, wat skynbaar onmiddellik die skool in kennis gestel het. Wiggett skryf dat, anders as Breytenbach se vorige slagoffers, het Joshua nie gevries toe Breytenbach sy hand by sy pajamabroek ingesteek het nie, maar weggehardloop en dit aangemeld by die skool. Grey het toe glo Breytenbach onmiddellik op 15 Augustus 1990 gepos. Hy is na ’n skool in Willowmore in die Oos-Kaap verplaas.

Wiggett identifiseer vier onderwysers, onder wie Volsteedt (wat destyds die koshuisvader van die senior koshuis was), die destydse skoolhoof, Michau Heyns, en die koshuisvader van die junior koshuis, Ingo Machts, wat na bewering van die beweerde aanranding geweet het of moes geweet het.

Hy skryf ook dat Machts skynbaar die koshuisseuns bymekaar geroep het om hulle in te lig dat Breytenbach nie meer daar onderwys gee nie en die seuns gewaarsku dat Grey se naam in gedrang gaan kom, sou hulle uitpraat. Hy het hulle aangeraai om met ’n onderwyser of ’n prefek te praat, sou hulle enigiets wou deel.

Willem Breytenbach as Kovsie-student. Foto: Deon Wiggett

Met verwysing na die drie onderwysers skryf Wiggett: “Hierdie drie Grey-gentle­men . . . het teruggesit, terwyl die woede van Grey op my broer Joshua losgelaat is. Seun Zero. Die seun wat iets sou sê.”

Wiggett skryf sowel Machts as Volsteedt het aan hom gesê dit was baie lank gelede en hulle kan nie so ’n voorval onthou nie.

Machts het gesê hy sou die geval by die skoolhoof aangemeld het, sou hy daarvan geweet het. Hy sê hy bedoel nie daarmee dat Joshua sou lieg nie, net dat hyself na die skoolhoof sou gegaan het.

Volsteedt sê in die boek aan Wiggett, dat dit “bietjie wreed” is om hom nou te vra, aangesien hy al 73 is en “boggerol” meer kan onthou. Hy weet self nie hoekom Breytenbach skielik by die skool weg is nie.

Volgens Volsteedt dra hy ook nie kennis van die bewerings oor Breytenbach nie, maar dink Machts was “die naaste aan” Breytenbach, aangesien Breytenbach koshuisdiens in Machts se koshuis gedoen het.

Johan Volsteedt kort ná sy aftrede as skoolhoof van Grey.
Ingo Machts (64), koshuisvader tydens die molestering.
Dr. Michau Heyns (84), oudskoolhoof van Grey-kollege.

Machts het die afgelope week aan Rapport gesê hy gaan niks verder sê nie en dat hy vroeër ’n “onaangename ervaring” (die telefoniese oproep) met Wiggett gehad het. “As hy geld maak uit die boek, sal ek bly wees vir hom,” sê Machts.

Volsteedt het Vrydag aan Rapport gesê hy het “byna ’n dekade gelede by Grey afgetree en wil derhalwe nie kommentaar lewer nie”.

“Wat ek wel in my persoonlike hoedanigheid wil noem, is dat die ‘skoolbestuur’ nie ’n onderwyser sou kon ‘pos’ nie. Sover my kennis strek, mag slegs die departement van onderwys ’n onderwyser oorplaas van een skool na ’n ander. As huisvader van 30 jaar gelede het die klagtes waarna verwys word, nie by my uitgekom nie.”

Volgens die boek het Volsteedt destyds aan die internetnuusblad News24 gesê dat Heyns alzheimersiekte het en nie goed onthou nie.

Rapport het ook die afgelope week met ’n 39-jarige man gesels wat beweer dat hy as 12-jarige deur Breytenbach gemolesteer is terwyl hy ’n leerling van die Hoërskool Langenhoven op Riversdal was. Die man sê Wiggett se boek bring “gemoedskalmte” en dat die molestering van jong seuns te veel gebeur.

“Dis wonderlik dat Deon opgestaan het, almal moet saamstaan. Die goed gebeur in klein dorpe en stede. Die boek sê vir die outjies daar buite wat (steeds) gemolesteer word: Staan op. Roep: ‘Help my!’ Ek sien vandag seuntjies en dan raak ek hartseer, want mens se selfvertroue is destyds van jou gesteel.”

JC de Jager, Breytenbach se regsverteenwoordiger, het Vrydag by navraag gesê die saak is sub judice en hulle kan dus geen kommentaar lewer op die verskyning van die boek of enige bewerings vervat daarin nie. “Ons sal dit ook waardeer as julle nie ons kliënt direk probeer kontak nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.