Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Groenewald wéér vas oor renosterhoring
Dawie Groenewald (52), wildboer van Limpopo, is Woensdag weens die onwettige besit van renosterhorings in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

Dawie Groenewald (52), ’n vermeende baasbrein van een van Suid-Afrika se grootste renosterstroopsindikate, is Woensdag weer in hegtenis geneem met 19 renosterhorings ter waarde van R2,5 miljoen wat glo in sy besit was.

Groenewald is ’n bekende wildboer van Limpopo en is saam met Schalk Abraham (A.B). Steyn (47), ’n sakeman van Mbombela in Mpumalanga, Woensdag buite die stad in hegtenis geneem.

Groenewald is uit op borgtog van R100 000 hangende ’n saak in die hooggeregshof in Pretoria waarvoor hy in 2010 in Limpopo in hegtenis geneem is.

Hy en Steyn was Woensdagaand in die polisieselle in Mbombela.

Hulle het Donderdag om borgtog aansoek gedoen in die landdroshof in Mbombela. Groenewald het in ’n bruin baadjie en Steyn in ’n blou pofbaadjie in die beskuldigdebank verskyn. Die staat het die aansoek teengestaan.

Adv. Christiaan Sevenster, Groenewald se regsverteenwoordiger, het Donderdagmiddag gesê hy is hoopvol dat sy kliënt borgtog sal kry.

Kol. Katlego Mogale, nasionale woordvoerder van die Valke, sê die twee mans is in hegtenis geneem as deel van ’n operasie wat ten doel het om stropery te bekamp. Private ondersoekers het saam met die Valke gewerk om Groenewald in hegtenis te neem.

Die mans het 19 renosterhorings in twee Toyota Hilux-bakkies vervoer toe hulle vasgetrek is.

AB Steyn (47), 'n sakeman van Mbombela in Mpumalanga, is weens die onwettige besit van renosterhorings in hegtenis geneem. Foto: Verskaf
AB Steyn (47) van Mbombela in Mpumalanga. Foto: Verskaf

Mogale sê die Valke het op die twee bakkies beslag gelê.

Dit is nie duidelik waar hulle die renosterhorings gekry het of waarheen hulle daarmee op pad was toe hulle in hegtenis geneem is nie.

Hulle is aangekla weens die onwettige besit van renosterhorings en die handel in renosterhorings.

Groenewald is vir die eerste keer in 2010 saam met agt medebeskuldigdes, onder wie beroepsjagters en twee veeartse van Limpopo, in hegtenis geneem weens hul beweerde betrokkenheid by die onwettige besit en verkoop van renosterhorings. Die Valke het toe op Groenewald se luukse wildplaas in Musina asook by sy huis in Polokwane toegeslaan.

Daar is ook op die plaas afgekom op etlike renosterkarkasse, waarvan die horings verwyder is. Van die aanvanklike beskuldigdes het pleitooreenkomste met die staat aangegaan.

Groenewald en sy medebeskuldigdes het in Maart vanjaar vir die soveelste keer in die hooggeregshof in Pretoria verskyn op 1 600 aanklagte, wat ook geldwassery en rampokkery insluit. Die res van die aanklagte hou verband met die onwettige besit van en handel in renosterhorings.

Regter Bert Bam wou by die staat en die regspanne vir die verdediging weet hoekom die saak bykans 12 jaar lank sloer. Een van die vertragings is veroorsaak toe adv. Piet van Wyk SC, wat Groenewald se advokaat was, in 2020 aan Covid-19 dood is.

Die Valke het Woensdag op die renosterhorings by Dawie Groenewald (52) en AB Steyn (47) buite Mbombela in Mpumalanga beslaggelê. Foto: Verskaf
Die Valke het Woensdag op die renosterhorings by Dawie Groenewald (52) en AB Steyn (47) buite Mbombela in Mpumalanga beslaggelê. Foto: Verskaf
horing
Die Valke het Woensdag op die renosterhorings by Dawie Groenewald (52) en AB Steyn (47) buite Mbombela in Mpumalanga beslaggelê. Foto verskaf

Hennie Erwee, Groenewald se prokureur, het in Maart gesê die strafregtelike saak kan nie voortgaan voordat ’n aansoek in die konstitusionele hof om die moratorium wat die regering op die handel in renosterhoring geplaas het, aangehoor word nie.

Groenewald en sy medebeskuldigdes moet weer in September in die hooggeregshof in Pretoria verskyn. Groenewald hou vol dat hy nie skuldig is aan enige misdrywe nie.

Hy en sy broer, Janneman (48), is in 2017 deur Interpol in Polokwane in hegtenis geneem in verband met verskeie renosterverwante misdrywe waarvan hulle in 2015 in hul afwesigheid in Amerika aangekla is. Die twee broers was toe vir ’n nag in aanhouding in die polisieselle voordat hulle op borgtog vrygelaat is. Dié saak is later laat vaar. Janneman is in 2019 in sy slaap aan ’n hartaanval dood.

* Die borgtogaansoek duur Vrydag voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.