Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Groep stenig man wat glo meisie met mes steek

In nog ’n voorval van straatgeregtigheid in die Vrystaat is ’n jong man van Phokeng, Welkom, vermoor toe ’n groep mense op hom toegesak en hom gestenig het omdat hy glo sy meisie met ’n mes gesteek het.

Dit is die tweede voorval vandeesmaand in dié provinsie waar mense die reg in eie hande neem en mense wat van ’n misdaad verdink word, aanval.

Sowat ’n week gelede het ’n groep mense ’n tradisionele geneesheer in Intabazwe, Harrismith, aangeval en aan die brand probeer steek omdat hulle haar verdink het dat sy ’n sewejarige meisie ontvoer en vermoor het.

Die mense het ook twee polisievoertuie omgekeer en aan die brand gesteek.

Nege mense is vir dié voorval in hegtenis geneem en het reeds Dinsdag in die hof verskyn.

Foto ter illustrasie. Foto: André Damons

Sibongile Ngubeni (50), Zanele Mazibuko (42), Kgethang Mosela (31), Nhlanhla Dladla (24), Sizakele Memela (23), Maletsatsi Moloi (38), Nonhlanhla Kumbi, Sibongeni Tshabalala (25) en Doctor Fani Mokoena (31) het op aanklagte van ontvoering, openbare geweld, brandstigting en poging tot moord in die hof verskyn. Hulle verhoor is tot Maandag uitgestel wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Lt.genl. Lebeoana Tsumane, Vrystaatse polisiehoof, het die jongste voorval ten sterkte veroordeel en gesê mense wat die provinsie in ’n wettelose samelewing verander, kan nie verskoon word nie.

Tsumane sê hy het ’n span kundiges aangestel om die meisie van Intabazwe se moord te ondersoek en hulle volg leidrade op om te verseker die oortreders word aangekeer.

In die jongste voorval het inwoners van Phokeng, Thabong, Donderdag Tefo Moses Lereka (31) aangerand en hom gestenig omdat hy na bewering sy vriendin verskeie kere met ’n mes gesteek het.

Hy is op die toneel dood.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê Lereka en sy vriendin was in ’n stryery betrokke wat tot die messtekery gelei het.

Die meisie is na die Bongani-hospitaal in Welkom gebring.

’n Klag van moord word ondersoek weens Lereke se dood.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Welkom  |  Misdaad  |  Moord  |  Mesaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.