Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Grondeienaars word steeds geïntimideer, sê Saai

Ondanks verdoemende hofuitsprake teen die Kommissie vir die Herstel van Grondregte en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die laaste tyd, “beur regeringsamptenare voort om grondeienaars buite die wetlike of voorgeskrewe prosesse te intimideer”.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, sê dit word gesien in ’n toename in plaasbesoeke deur eisers en amptenare verbonde aan die kommissie, aanbiedings aan grondeienaars en druk op hulle om hul eiendom teen minder as die markwaarde te verkoop.

Die landbou-organisasie Saai sê daar is ’n toename in die aantal plaasbesoeke deur eisers en amptenare verbonde aan die Kommissie vir die Herstel van Grondregte. Foto: Argief

Hy sê in ’n verklaring Saai is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid in dié proses, veral omdat grondeienaars sukkel om basiese dokumente – soos eisvorms en die navorsing oor die geldigheid van die eise – van die departement te kry.

“In die meeste gevalle wil dit voorkom of daar nooit navorsing gedoen is nie.”

De Jager sê Saai is veral bekommerd oor die departement se gebrekkige begroting om die grond te koop.

Hy is ook bekommerd oor die stadige pas van die proses. Sekere eise waarvan die grondeienaars reeds in 2002 aanbiedinge aanvaar het, is steeds nie afgehandel nie, sê hy.

Boonop word verwagtinge by grondeisers geskep word dat hulle óf plase óf finansiële vergoeding sal kry in die geval van eise waarvan die geldigheid onder verdenking is.

“Daar is ook ’n gebrek by die departement en veral die kommissie om binne ’n realistiese begroting die vermoë te skep om die eise te verwerk en af te handel.”

Annelize Crosby, Agri SA se grondhoof, sê die kommissie word die laaste paar jaar nasionaal goed bestuur.

“Die kommissie streef na groter onafhanklikheid van die departement en het al planne in dié verband voorgelê. Hy is deurlopend besig om sy eie prosesse te ontleed en te verbeter.

“Die kommissie verstaan waar die haakplekke in sy eie prosesse is. Een van die probleme wat hy self erken, is die probleem met navorsing.

“Die kantoor van die waardeerder-generaal en sy benadering tot vergoeding is wel ’n baie groot probleem. Dié kantoor is ook die rede vir baie van die vertragings met restitusie en herverdeling.

Ons meen dat die formule wat die waardeerder-generaal toepas, ongrondwetlik en buite sy regsgesag is.

“Agri SA het die benadering van die waardeerder-generaal reeds een keer in die hof, in die Melmoth-saak (in KwaZulu-Natal) gepak. Daar is tans nóg ’n saak wat ons finansieel ondersteun om duidelikheid te kry oor die toepassing van die formule oor vergoeding.

“Ons meen dat die formule wat die waardeerder-generaal toepas, ongrondwetlik en buite sy regsgesag is. Grondeienaars moet hulle nie laat boelie en vergoeding aanvaar wat op hierdie formule gegrond is nie.”

Crosby sê die departement se gebrekkige begroting, die feit dat dit weens die Covid-19 pandemie nog verder gesny is, sowel as die groot aantal uitstaande eise, die moontlikheid van verdere heropening van eise en verwagtinge wat geskep word, is vir Agri SA ook ’n groot bron van kommer.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het nog nie reageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Meer oor:  Saai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.