Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Groot geld’ by De Kock ‘gesteel’

Eugene de Kock, voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, beskuldig sy finansiële raadgewer daarvan dat sy hom rot en kaal besteel het.

Miempie van Wyk (59) Foto: Linkedin
Eugene de Kock Foto: Argief

De Kock het verlede week ’n klag van bedrog teen Miempie van Wyk (59), ’n onafhanklike finansiële raadgewer, ingedien nadat ’n rekenmeester bevind het die pensioengeld wat glo vir De Kock belê is, het verdwyn.

Dit het aan die lig gekom toe die rekenmeester bewerings voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping wou bekyk dat De Kock groot bedrae geld van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) gekry het.

Lucas Visagie, De Kock se prokureur, het bevestig hy het bygestaan toe sy kliënt ’n verklaring afgelê het waarin hy beweer Van Wyk het “groot geld” by hom “gesteel”.

“Ons probeer nog vasstel hoeveel geld ter sprake is. Die geld het oor ’n lang tydperk uit sy rekening verdwyn,” sê Visagie.

Die polisie ondersoek tans die klag.

Van Wyk sê sy is nie bewus van die klag teen haar nie.

Dit het oor ’n lang ruk uit sy reke­ning ver­dwyn.

Van Wyk het De Kock destyds verskeie kere in die gevangenis besoek toe hy 22 jaar lank agter tralies was.

De Kock was hoof van ’n geheime eenheid wat anti-apartheidsaktiviste in die 1980’s tot in die vroeë 1990’s ontvoer, gemartel en vermoor het.

Van Wyk het in 2012 ’n liefdadigheidstrust vir De Kock begin en ’n bankrekening vir hom geopen, sê ’n bron.

Sy het verskeie geleenthede soos onder meer wynproë en boekveilings gereël om vir hom geld in te samel en hy het haar ten volle met sy geldsake vertrou.

De Kock is drie jaar later in 2015 onder uiters streng paroolvoorwaardes en onder die “beskerming” van die Staatsveiligheidsraad op parool vrygelaat.

Volgens die bron is De Kock se pensioengeld in sy persoonlike rekening inbetaal en Van Wyk het die geld by die batebestuursfirma Allan Gray belê.

Die geld is in De Kock se beleggingsrekening by Allan Gray inbetaal, maar is glo stelselmatig onttrek en het toe verdwyn.

“Dit is groot geld en meer as genoeg om ’n huis mee te koop.”

Johan Botha van Botha-rekenmeesters sê hy het vasgestel dat De Kock besteel word toe die Nongqai-trust, wat De Kock bystaan, hom gevra het om bewerings voor die Zondo-kommissie te ondersoek dat De Kock betalings gekry het van die SVA.

Die trust het besluit om die ondersoek te gelas nadat ene mev. K verlede jaar voor die Zondo-kommissie getuig het dat die SVA tussen R100 000 en R200 000 per maand vir De Kock se onderhoud opgedok het.

Dit sou ’n salaris van R40 000 per maand ingesluit het.

Mev. K het voorts getuig dat sy nie eerstehandse kennis hiervan dra nie, maar dat sy ’n geskrewe verslag daaroor van een van haar kollegas onder oë gehad het.

Haar getuienis het die beëdigde verklaring van ene mnr. Y gestaaf, wat by die kommissie ingedien is.

Botha sê De Kock het sy bankstate en finansiële gegewens vir hom beskikbaar gestel en hy het agtergekom dat geld uit sy rekening geneem is waarvan hy nie bewus was nie.

Hy sê hy kon geen bewyse vind vir bewerings dat die SVA beweerde groot somme geld aan De Kock betaal het nie.

Botha sê hy het die “vermeende dief” hieroor gekonfronteer en De Kock het daarna ’n klag van bedrog teen die persoon aanhangig gemaak.

Hennie Heymans, sekretaris van die Nongqai-trust, sê hulle is geskok dat iemand De Kock se geld kon vat.

Volgens hom ly De Kock aan erge depressie en posttraumatiese stres.

“Ek het van my stoel af geval toe ek dit hoor. Dit is soos om geld by ’n blinde persoon of ’n baba te steel.”

Kol. Noxolo Kweza, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig dat De Kock ’n klag van bedrog aanhangig gemaak het en dat daar wel ’n saaknommer bestaan.

Sy sê die saak word tans ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Eugene De Kock  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.