Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Groot kommer oor toename in aanvalle op bejaardes
Jakkie Grobler (80) is Sondagaand in haar huis in die Koraal-aftreeoord in Polokwane vermoor. Foto: Verskaf

Bejaardes móét in kontak bly met vriende, familielede of bure wat daagliks seker maak hulle is veilig.

So sê Marius Muller, nasionale veiligheidskoördineerder van die burgerregteorganisasie AfriForum, ná ’n vlaag aanvalle en moorde op bejaardes in dorpe en stede landwyd.

“Die toename in voorvalle waar bejaardes aangeval, beroof en vermoor word, is vir ons ’n groot bekommernis.”

Hy sê bejaardes moet ’n staande reëling met vriende of bure hê om hulle elke dag op ’n vasgestelde tyd te bel. “As jy nie daardie mens vinnig in die hande kry nie, gaan kyk of daar iets fout is.”

Hy maan mense moet self verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. “Ons woon in ’n gewelddadige land waar elke dag sowat 60 moorde gepleeg word.”

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê bejaarde vroue in Polokwane was die afgelope twee weke “sagte teikens vir gewetenlose misdadigers”.

Die moordenaar(s) van Jakkie Grobler (80), wat Sondagaand in die Koraal-aftreeoord in Suidstraat, Polokwane, met ’n kierie doodgeslaan is, is steeds op vrye voet. Grobler is glo in haar huis verkrag voordat die moordenaar(s) met haar selfoon en ’n skootrekenaar gevlug het.

“Ouma was veronderstel om nog baie te WhatsApp en nog baie te bel. Ons was nie reg om afskeid te neem nie, nie só nie en nie so vinnig nie,” het Lezane Mclellan, ’n kleindogter van Grobler, gesê.

Dewald Hattingh, bestuurder van die Koraal-aftreeoord, sê daar is ’n elektriese heining, veiligheidswagte, alarmstelsels en toegangsbeheer.

Hettie Deacon (79) is twee weke gelede in Polokwane vermoor. Foto: Verskaf
Lizette Deacon (55), ’n sakevrou van Polokwane, is twee weke gelede vermoor. Foto: Verskaf

Die verbetering van die veiligheid het gekom nadat ’n vrou in 2018 in haar huis in die Koraal-aftreeoord aangerand is. Daar was vroeër vanjaar ’n vlaag inbrake waar elektroniese ware uit huise gesteel is terwyl inwoners geslaap het. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke sê bejaardes moet in die aand seker maak hul huise is gesluit, dat die vensters toe is en dat die gebied buite hul huise goed belig is.

Twee weke gelede is die sakevrou Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie Deacon (79), in hul meenthuis in die gegoede Welgelegen-woonbuurt in Polokwane aangeval.

Hulle is met messe gesteek voordat hulle in Lizette se wit Honda-luikrugvoertuig ontvoer is. Hul lyke is ure later in die voertuig sowat 25 km buite Polokwane gekry.

’n Groep vroue in Limpopo wat as Women Taking Back Safety (WTBS) bekend is, gaan Vrydag ’n reuse-optog by die landdroshof in Polokwane hou wanneer die Deacons se vier vermeende moordenaars weer in die hof verskyn.

Adelé van der Linde, ’n organiseerder van die WTBS, sê vroue en bejaardes se veiligheid moet te alle tye verseker word. “Ons is keelvol vir geweld, dit moet stop.”

Désirée van der Walt, DA-parlementslid en voorsitter van die DA se vrouenetwerk in Limpopo, gaan gedurende die betoging ’n versoekskrif laat onderteken om moorde op vroue en bejaardes te stop, wat sy aan pres. Cyril Ramaphosa gaan oorhandig.

Vroue van Polokwane het twee weke gelede blomme gevat na die Ocean Basket-restaurant in die Mall of the North waar die vermoorde Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie Deacon (79), gewerk het. Foto: Marietie Louw-Carstens

Sophie Mmako (51), ’n huiswerker van die Deacons, en haar kêrel, Lazarus Mahlo (41), het glo geheul met Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), twee Zimbabwiërs, om die Deacons te vermoor.

• In van die mees onlangse voorvalle waar bejaardes aangeval is, is Hannes Loots (72) en sy vrou, Rina (73), Dinsdagaand in hul huis in Sasolburg deur vermoedelik ’n werker van hulle aangerand. Sias Willemse (71), ’n bekende in sportkringe in Potchefstroom, is Dinsdag helderoordag in sy huis vermoedelik met dasse verwurg en in sy nek geskiet.

Nog ’n oudsportman, Piet Brand (77), is vroeër vandeesmaand ook helderoordag in sy huis in Vanderbijlpark deur gewapende mans oorval en beroof. Hy het die aanval oorleef. Peter Treichel (78) is verlede week in sy meenthuis in Menlyn Maine in Pretoria erg deur gewapende mans aangerand.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, het Donderdag nie op navrae gereageer oor of die polisie die toename in aanvalle op bejaardes as ’n nuwe misdaadneiging beskou nie.

Meer oor:  Bejaardes  |  Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.