Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Groot soektog na skuldiges wat 11 in Khayelitsha doodskiet

Die polisie het sy 72-uur-opsporingsplan in werking gestel om die verdagtes aan te keer wat Saterdag vir die skietdood van 11 mans in Khayelitsha naby Kaapstad verantwoordelik was.

Genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die opsporingsplan in werking gestel om die verdagtes betrokke by ’n reeks skietvoorvalle te probeer vastrek.

Elf dood, sewe gewond

Elf mans is Saterdag in dié buurt doodgeskiet en nog sewe ernstig gewond toe grootskeepse geweld uitgebreek het.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê die reeks skietvoorvalle het plaasgevind ná die moord Saterdagoggend op ’n man van die RR-afdeling in Khayelitsha.

Die lyk van die eerste slagoffer is om 10:00 in Bazistraat (Area B) aangetref met veelvuldige skietwonde aan sy lyf.

Daar was ’n vuurwapen en ’n groot bedrag geld langs sy lyk.

’n Betroubare bron na aan die ondersoek het aan Netwerk24 gesê 43 patroondoppies is op die eerste toneel opgetel. Volgens die bron is dit die toneel waar “Pierrie”, vermoedelik een van die stigterslede van die Guptas-bende, doodgeskiet is.

Pierrie een van slagoffers

Bronne sê die moontlikheid word ondersoek dat lede van een van die Guptas-splintergroepe vir “Pierrie” vermoor het, of dat dit van die buitelandse winkeleienaars was wat hy en sy medebendelede vir beskermingsgeld afgepers het.

Volgens die polisie was die tweede voorval, waartydens twee Somaliese inwoners in T110 geskiet is, ’n vergeldingsaanval ná die eerste voorval.

In die tweede voorval is ’n man op die toneel dood terwyl nog ’n man met ernstige skietwonde na ’n hospitaal geneem is.

Saterdagmiddag is nog drie mans doodgeskiet in die RR-afdeling, ook moontlik ’n vergeldingsaanval.

Volgens Potelwa is nog twee mans later die dag doodgeskiet in die Y-blok. Een is in ’n agterplaas geskiet en die ander persoon in ’n motor.

“Verslae wat ons ontvang het, dui daarop dat nog twee Somali’s doodgeskiet is naby ’n spazawinkel. Een is op die toneel dood en die ander in ’n hospitaal.

“Bykomende inligting wat sedertdien ontvang is, dui daarop dat die slagoffers van die skietvoorvalle wat na die Tygerberg- en die Khayelitsha-distrikshospitaal geneem is, later dood is.

Die Khayelitsha Development Forum (KDF) sê in ’n verklaring hulle is hartseer en betreur die sinnelose moorde en aanvalle deur persone wat geen respek het vir ander se lewens nie.

Een lewe wat verloor word, is een lewe te veel

Een lewe wat verloor word, is een te veel, sê die KDF.

Die groep is dit eens dat niks hulle van koers af gaan kry om hul droom van ’n vreedsame Khayelitsha te bereik nie.

Hul visie vir Khayelitsha is ’n plek waar inwoners in ’n vreedsame omgewing kan leef, werk en speel, ’n plek waar almal ’n veilige en gerieflike woonplek het.

“Die KDF doen ’n beroep op al drie vaandels van die regering om die politisering van gemeenskapsveiligheid te beëindig en om kragte te smee om die vlaag van geweld en bendes in die gemeenskap stop te sit.

“Die KDF vra ook dat die regering en sakeondernemings hul Uyabonwa-projek (kringtelevisie-tegnologie) moet ondersteun.”

Die ontwikkeling van die Makhaza-polisiekantoor is ook op die KDF se lys van versoeke.

Die polisie het versterkings in die omgewing ontplooi.

Enigeen met inligting kan die polisie kontak by 08600 10111. Alle inligting word vertroulik hanteer.

Meer oor:  Khayelitsha  |  Soektog  |  Skuldiges  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.