Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Grypdief platgeduik – net reg vir sy CV!

’n Werklose man van Potchefstroom met ’n droom om eendag in die veiligheidsbedryf te werk, het die afgelope Woensdag ’n grypdief in die Mooirivier-winkelsentrum platgeduik.

Marco Coetzer (21)

Marco Coetzer (21) was die middag in die sentrum om kopieë van sy CV uit te deel. “Ek werk saam met my pa. Ons sit kaste in. Maar dis tyd dat ek op my voete kom, so ek soek nou ernstig werk, veral in die veiligheidsbedryf. Hierdie voorval kan ek seker nou op my CV onder ervaring lys,” lag hy.

Nadat hy Woensdag sy CV by ’n paar ondernemings ingedien het, het hy naby die sentrum se ingang op ’n bankie vir ’n vriendin sit en wag. “Ek het ’n geraas gehoor. Toe sien ek ’n man met ’n handsak aangehardloop kom.”

Daar was nie tyd vir dink nie.

“Ek het instinktief gereageer en hom geduik. Die tackle was beslis nie wettig nie. As ek hom só op ’n rugbyveld geduik het, sou die skeidsregter my ’n kaart gegee het,” sê Coetzer.

Hy was self verlede maand die slagoffer van ’n straatroof.

“ ’n Groep mans het my naby my huis met ’n mes van my foon en my beursie beroof. Dis hoekom jy met my oor my ma se selfoon moet praat.”

Dit was juis die rooftog wat hom aangespoor het om op te tree toe hy die grypdief sien.

“Mens kan sê verlede maand se roof was die petrol vir daardie tackle,” sê Coetzer.

Hy sê die reaksietyd van die sentrum se wagte het hom beïndruk.

“Hulle was dadelik by toe ons die grond tref. As ek hom nie geduik het nie, sou hulle.”

Wie die slagoffer was weet hy nie, maar sy duikslag het hom darem die geleentheid gegee om sy CV vir die sentrum se bemarkingsbestuurder, Ryno Meiring, te gee.

“Hy het vir my ’n R500-geskenkbewys van Woolworths gegee en dit was nie te sleg nie,” sê Coetzer.

Meiring sê hy het Coetzer belowe om die CV by die regte oë by hul sekerheidsmaatskappy te laat uitkom. “Die jong man se instinktiewe reaksie maak dit duidelik hy gaan nog goed doen vorentoe,” sê Meiring.

Meer oor:  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.