Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Grypdief ‘probeer kind deur venster trek’

’n Uitstappie vir ’n gesin van Mitchells Plain het Saterdagmiddag in ’n nagmerrie ontaard.

Denise Wessels het Dinsdag gesê sy is net bly dat haar driejarige dogtertjie ongedeerd is.

’n Ma van Mitchells Plain het Dinsdag gesê ’n grypdief het die glas van die passasiersvenster van haar motor gebreek en probeer om haar dogter daardeur te trek.

Wessels, haar lewensmaat, Byron Adonis, hul dogter en ’n 11-jarige vriendinnetjie was omstreeks 14:00 op pad na die Canal Walk-winkelsentrum, waar hulle die kinders na die speletjiesarkade wou neem.

Hulle het stilgehou by ’n rooi verkeerslig, net ná die voetbrug tussen Langa en Bonteheuwel.

Wessels sê sy het bestuur en Adonis het agter saam met die meisie gesit.

“Byron was ’n bietjie moeg en het met sy kop teen die rugleuning gedut. Die kind het op sy skoot gesit.” Die vriendinnetjie het voor by Wessels gesit.

Hulle was in die middelste baan met motors voor, langs en agter hulle. Die volgende oomblik het sy net glas hoor breek en Adonis hoor skreeu.

’n Man het die ruit van die agterste passasiersvenster gebreek en probeer om die meisie deur die stukkende venster te gryp.

“Byron het geskreeu en haar teruggehou. Ek het gevries en nie geweet wat om te doen nie.”

Toe Adonis begin skreeu, het die grypdief die kind se been gelos en weggehardloop. “Toe ek opkyk, het ek ’n tweede man by die passasiersvenster gesien waar die vriendinnetjie gesit het, gesien. Ek het toe besef dat ek ons daar moet wegkom.”

Sy het op ’n manier hul voertuig tussen die ander voertuie uitgekry en reguit na die Goodwood-polisiestasie gery.

Hier was die polisiebeamptes volgens haar baie behulpsaam. “Hulle het gesê dat ek die voorval by hulle kan aanmeld of by ’n polisiekantoor naaste aan my.”

Sy het die voorval die volgende dag by die Mitchells Plain-polisiestasie aangemeld.

Denise Wessels en haar dogtertjie

Wessels sê hulle weet daardie gebied op Jakes Gerwelrylaan is ’n gevaarpunt waar grypdiewe gereeld toeslaan.

“Nooit het ek egter gedink dat hulle ons kind sou probeer steel nie.”

Volgens haar was daar nie enige sakke waar die meisie en Adonis gesit het nie.

Sy sê sy praat met die media oor die voorval om ander mense te waarsku.

Volgens Wessels het ander mense sedertdien gesê dit het ook met hulle gebeur.

Intussen het Janine Willemans, ’n woordvoerder van die Kaapstadse munisipaliteit, gesê hulle wil nie kommentaar lewer nie.

Navrae oor die voorval is reeds Maandag na die polisie gestuur. Hulle het nie daarop gereageer nie.

Meer oor:  Mitchells Plain  |  Kind  |  Venster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.