Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Guptas: ‘Dagvaar banke, ouditeurs’

Dit is nie net Jacob Zuma wat moet rekenskap gee vir sy rol in staatskaping nie, ook bankiers en ouditeurs wat Zuma en die Guptas se vuilwerk gedoen het, moet gedagvaar word, sê Andrew Feinstein, oud-ANC-LP, en Hennie van Vuuren, wat hulle beywer om skurke vas te trek.

Andrew Feinstein

Feinstein en Van Vuuren se organisasies, Open Secrets en Shad­­ow World Investigations, het die afgelope week ’n omvattende navorsingsverslag oor die instaatstellers (enablers) van staatskaping aan regter Raymond Zondo oorhandig.

Dit lees soos ’n internasionale politieke riller en betrek onder meer HSBC, Europa se grootste bank, Nedbank, Standard Bank, Bank of Baroda en First National Bank (FNB), asook die konsultantegroep McKinsey, die ouditeursfirma KPMG, en die Gupta-verwante Regiments Capital.

“As die Zondo-kommissie se hof­aansoek vir die verlenging van sy spertyd slaag, behoort ons ondersoek ’n dringende prioriteit vir die kommissie te wees. Dit gaan oor hoe ons korporatiewe in Suid-Afrika verantwoordbaar hou,” sê Van Vuuren.

Feinstein, wat in 2001 uit die ANC bedank het toe die party geweier het dat Suid-Afrika se wapenaankope behoorlik ondersoek word, het Donderdag by ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê dis korrek om obsessief te wees oor oudpres. Zuma se hofverskyning in sy bedrog-en-korrupsie­saak, “maar wat beteken dit vir ’n groot korporasie soos Thales (Franse wapenvervaardiger), wat op dieselfde klagte moet verskyn?

‘Magashule het baie om voor ’n regter te antwoord.’

“Terwyl ons fokus op die Guptas en Gupta-netwerke in staatskaping, is dit net so belangrik om te fokus op die rol van private instaatstellers van staatskaping.”

Open Secrets sê Zondo behoort dringend sy magte kragtens die Kommissiewet van 1947 aan te wend en private rolspelers by staatska­ping dagvaar.

Oor die hoogs omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat sê Feinstein die diefstal van ’n fortuin wat bestem was vir arm boere sou nooit moontlik gewees het sonder die rol van die Bank of Baroda nie. “Hulle het Estina van ’n reeks bankgeriewe voorsien, insluitende ’n tjekrekening, lenings en vastedepositorekenings. Dit is gebruik om geld van die Vrystaatse regering wat vir Estina betaal is, te verduister. Daar moes reeds vroeg vasgestel gewees het Estina is betrokke by geldwassery.”

Hy sê Standard Chartered, ’n Britse bank, het sy rekeninge met die Gupta-netwerk reeds in 2014 gekanselleer. “Hulle moet geloof word. Die vraag is hoekom het ander banke dit nie ook nie gedoen nie,” sê Feinstein.

Die ondersoekers wys hoe Ace Magashule, toe nog Vrystaatse premier en nou ANC-sekretaris-generaal, in Februarie 2013 die Estina-projek aangekondig het. Dit sou 100 kl melk per dag lewer.

Twee maande later het die Guptas ’n uiters duur troue by Sun City gehou met geld wat bedoel was vir dié projek. ’n Ondersoek deur Shadow World Investigations het aangetoon die grootste deel van die R280,2 miljoen vir dié projek is oorgedra in rekenings wat besit of beheer is deur die Guptas. Die Sun City-troue is gebruik om Estina-geld te verduister en is deur die ouditeursfirma KPMG moontlik gemaak, het hy gesê. KPMG het verskoning aangeteken oor sy betrokkenheid by die Guptas.

Feinstein sê hy hoop die Zondo-kommissie dagvaar Magashule.

“Hy skree van die kantlyn, maar het baie om voor ’n regter te antwoord. Die skandaal wek vrae oor hoe die ouditeursprofessie sy sake bedryf en hoe dit gereguleer word,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.