Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Gyselaarsdrama: Polisie- en weermaglede glo betrokke

Onmin binne kerkgeledere het blykbaar gelei tot ’n gyselaarsdrama vroeg Saterdagoggend in Gauteng, waarin vyf mense dood is.

Onder andere polisie- en weermaglede is in hegtenis geneem.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het vroeg Saterdagmiddag in ’n mediaverklaring gesê verskeie afdelings van die polisie, asook lede van die Suid-Afrikaanse Weermag, het omstreeks 03:00 Saterdagoggend gereageer op berigte oor ’n skietery en beweerde gyselaarsituasie by ’n kerk in Westonaria aan die Wes-Rand. Dié kerk, die International Pentecostal Holiness Church, is in Zuurbekom.

Volgens Naidoo het ’n groep gewapende mense glo kort tevore by die kerk aangekom en mense binne die gebou aangeval.

“Hulle het glo aangedui hulle is daar om die perseel oor te neem. Ons ondersoek die moontlikheid dat die motief vir die aanval ’n vete tussen strydende groepe in die kerk is.”

Van die verdagtes wat Saterdag by die kerk in Westonaria in hegtenis geneem is. Foto: SAPD/Twitter

Die polisie het afgekom op die lyke van vier mense wat geskiet en in ’n kar verbrand is, asook op die lyk van ’n veiligheidswag wat in sy kar doodgeskiet is nadat hy oënskynlik op ’n klagte (oor die skietery) gereageer het. Volgens Naidoo het die polisie meer as 40 verdagtes in hegtenis geneem, waaronder ses verdagtes wat met beserings na ’n hospitaal geneem is.

Onder die gearresteerdes is polisie- en weermaglede, asook lede van die Johannesburgse metropolisie en mense wat vir die departement van korrektiewe dienste werk.

Die polisie het beslag gelê op meer as 34 vuurwapens. Naidoo sê teen vroeg Saterdagmiddag was die polisie steeds op die toneel. Die syfers oor die inhegtenisnames en beslagleggings kan nog verander, sê hy.

Die polisie het vroue en kinders wat glo op die perseel woon en gyselaar gehou is, gered.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die verskillende polisie-eenhede in Gauteng wat by die optrede betrokke was, geloof vir hul vinnige reaksie op die voorval.

“Ek is oortuig dit het ’n selfs erger bloedbad voorkom. Ek het die provinsiale polisiebestuur opdrag gegee om die voorlopige ondersoek so gou moontlik af te handel sodat die 72 uur-aktiveringsplan in werking kan tree om diegene verantwoordelik vir die aanval tot verantwoording te roep.”

Sitole sê dis jammer dat so iets gebeur in ’n tyd wanneer Suid-Afrika gebuk gaan onder “die plaag van ’n dodelike virus en geweldsmisdade”.

“Ek volg nou ’n geestelike misdaadvoorkomingskonsep waarby alle godsdienstige groeperings betrek sal word in die stryd teen misdaad.”

Meer oor:  Gyseldrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.