Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Haat in aanvallers se oë bly Porterville-vrou by

Die wreedheid in hul stemme. Die manier hoe hulle gepraat en geskree het. Die haat in hul oë.

Dit is wat by haar spook, het Desireé Taylor-Van Schalkwyk (45) gesê ná voorval waarin sy en haar man, Tobie (50), op ’n plaas buite Porterville in die Wes-Kaap aangeval is.

Drie mans met handskoene en klapmusse aan het hulle Sondag skuins ná 21:00 op hul plaas De Tuin aangeval.

Desireé Taylor-Van Schalkwyk ná Sondagaand se beserings. Daar is foto’s van haar hele lyf wat van die pers kneusplekke oortrek is.Foto: Verskaf

Petrol in ’n tweeliter-koeldrankbottel is oor Tobie uitgegooi. Desireé, wat seksueel aangerand en byna verkrag is, het toestemming gegee dat sy geïdentifiseer word.

Gebed en ’n gestoei met haar aanvaller het haar vasberade gehou en tot die einde laat terugbaklei, het sy Maandag in trane aan Netwerk24 gesê. Sy het deurentyd gebid dat die Here haar en haar man sal beskerm.

Sowat ses weke voor die aanval is die egpaar se huis met graffiti bespuit. Die woorde “Kill the boer”, “Viva Juju” en “Viva EFF” is met verf op hul deure gespuit.

Volgens Desireé was sy ná hierdie voorval in Oktober vreesbevange. Sy het die veiligheid om die huis tot die uiterste verskerp.

“Ek het nie meer naels oorgehad nie, ek was so gespanne.”

Die graffiti wat ’n ruk gelede teen die voordeur gespuit is.Foto: Verskaf

Om veiligheidsredes het hulle ook selfs hul slaapkamer van die onderste verdieping na die boonste verdieping geskuif. En Sondagaand is hulle aangeval.

Tobie het ’n lêer in sy kantoor ’n entjie verder van die huis af gaan haal. Desireé het gesê die drie aanvallers het vermoedelik toe by die hek ingeglip.

Toe hy terugkeer, is Tobie in die opwaskamer oorval en teen die grond vasgedruk.

“Hy is ’n parapleeg; hy loop met ’n kierie, so hy is nie baie vas op sy voete nie. Hulle het hom geskop toe hy op die grond val en hom in die gesig geslaan.”

Desireé Taylor-Van Schalkwyk by die graffiti.Foto: Verskaf
Tobie van Schalkwyk ná Sondagaand se aanval.Foto: Verskaf

“You f****** white boer. We’re gonna kill you,” het hulle gesê terwyl die aanranding aangaan. Hulle wou weet waar die vuuwapens is en hy het gesê dat hy nie vuurwapens het nie.

Desireé, wat nog bo in haar slaapkamer was, het af ondertoe gegaan en op die aanranding afkom. Sy is grond toe gegooi en in die gesig geslaan.

“Ek het toe besef gebeur en het gedink vanaand gaan ons dood.”

Sy het petrol op haar man geruik. “Ek kon dit ruik en het hom in die poel petrol sien lê. Ek het gedink hulle gaan ons albei aan die brand steek.”

Twee van die aanvallers het haar op die grond vasgepen en een wou haar verkrag. “Ek het vir my lewe baklei. Een het agter my gestaan en die ander voor my en my bene probeer oopdwing. Ek het dit met al die krag wat ek het, probeer toehou.”

Desireé het gesê sy het deurentyd hardop gebid. “Hoe meer ek gebid het, hoe kwater het hulle geword.”

Die mans het aan Tobie gesê hy gaan sien hoe sy vrou verkrag word.

“My man kon sy karsleutels in die hande kry en het die kar se alarm geaktiveer. Die mans het gevlug toe die alarm afgaan.”

Desireé Taylor-Van Schalkwyk ná Sondagaand se beserings. Daar is foto’s van haar hele lyf wat van die pers kneusplekke oortrek is.Foto: Verskaf

Desireé het gesê was dit nie vir haar man nie, sou die aanvallers hulle doodgemaak het. “Ek dink nie hulle was van plan om ons lewend te hou nie, nie met dit wat aan die gang was nie.”

Haar man het onmiddellik die polisie ontbied.

Die polisie en ander veiligheidsinstansies, asook Anton Burger, wat vir die plaaswag op patrollie was, was van die eerstes op die toneel.

“Mense het nie gehuiwer om te kom help nie,” het hy gesê. Volgens hom is die gemeenskap geskok oor die gebeure.

Desireé het gesê haar man, wat gewoonlik baie kalm is, is ná die voorval baie bewerig. Hulle sal vir berading gaan.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord en seksuele aanranding. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Nosipho Makamba, adjunk-voorsitter van die EFF in die provinsie, het by navraag gesê sy kan nie kommentaar lewer oor die aanval nie, omdat niks by hulle aangemeld is nie.

Volgens haar praat die EFF nie enige vorm van geweld goed nie. “Ons is nie ’n gewelddadige party soos wat mense ons uitbeeld nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.