Ontvoerders wat Dinsdag ’n leerling buite ’n skool in Johannesburg ontvoer het, eis ’n losprys van tussen R100 000 en R500 000 van die kind se ouers.

Lindotuhle Masutu is glo Dinsdag buite Queens High ontvoer. Foto: Facebook/Bezvalley Community
Lindotuhle Masutu (14) is Dinsdag om 14:38 ontvoer, terwyl hy buite sy skool gestaan het, sê Portia Masutu, Lindotuhle se ma.
“Hy het sy skooluniform aangehad toe hy ontvoer is. Die ontvoerders het gisteraand om 19:00 gebel en tussen R100 000 en R500 000 geëis. Hulle het nog nie weer kontak gemaak nie.”
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die seun, ’n gr. 8-leerling aan Queens High School in Bezuidenhoutvallei naby Bruma, is ontvoer toe hy op sy saamrygeleentheid gewag het.
“Die seun is ontvoer terwyl hy buite die skoolhek gewag het. Die ontvoerders eis glo ’n losprys van R5 miljoen voordat hulle die seun sal vrylaat,” sê Mabona.
Hoewel die departement in sy amptelike verklaring sê die bedrag wat geëis word, is R5 miljoen, het Lindo se ma die bedrag wat die ontvoerders eis as tussen R100 000 en R500 000 aan Netwerk24 bevestig.
Mabona sê die polisie in Bezuidenhoutvallei ondersoek die omstandighede rakende die saak.
Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig 'n saak van ontvoering word ondersoek.