Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hannah in stigting vir vroue, kinders gedenk
“Hannah! Dankie!” roep Anna Cornelius (met grys serp), langs haar man, ­Willem, uit, onder ’n crescendo van klank van ’n optog van motorfietsryers af. Foto’s: Jaco Marais

Die vermoorde student Hannah Cornelius se gebroke ouers, ­Willem en Anna, het “onttrek”.

Hulle volg nie die nuus rondom haar dood en die hofverskyning van haar vermeende moordenaars nie en probeer maar net “om deur môre te kom”.

“Hul huis is vir hulle ’n bubble, ’n klein toevlugsoord, net met Hannah se katte, Meow en Mimi,” het Lali van Zuydam, die familie se woordvoerder, Vrydag in Vishoek by Hannah se roudiens aan Rapport gesê.

Daar is wel planne om hul dogter, wat in die NG Kerk as ’n “engel” gehuldig is, te gedenk in die te stigte Hannah Cornelius-stigting wat ten doel sal hê om die veiligheid van vroue en kinders te bevorder.

Hannah (21) is verlede Vrydagnag in Stellenbosch deur vier mans gekaap, ontvoer, verkrag en vermoor.

Haar studentevriend Cheslin Marsh (20) het saam met haar in haar ouma se blou Citi Golf in Birdstraat gesit toe vier mans een van die motor se deure met ’n skroewedraaier oopgedwing het.

Hartjies, sterre en kruise vir Hannah.

Die mans het met die twee na Kraaifontein, 20 km verder, gery, waar Cheslin met bakstene aangerand en vir dood langs die pad gelos is. Hannah se lyk is ure later langs die Knorhoekpad buite Stellenbosch gevind.

’n Bewoë Marilyn Marsh, Cheslin se ma, het Vrydag Hannah se roudiens in die stampvol NG gemeente bygewoon.

Haar seun word steeds in die Tygerberg-hospitaal vir ernstige kopbeserings behandel. Hy ondergaan môre ’n operasie aan sy arm.

Ds. Jan van Heerden het in sy boodskap gesê Hannah het destyds vir hom haar wenslys uitgespel: Dat haar erg outistiese broer, ­Andries (18), oukei sal wees vir die res van sy lewe, en dat sy wat Hannah is ander mense sal kan help vir die res van háár lewe.

Hannah se ouma, Eleanor de Villiers (91), het uit Pretoria gereis vir die diens.

Haar man, wyle prof. Pieter de Villiers, was ’n bekende komponis en musiekdosent aan die Universiteit Stellenbosch.

Sy komposisie ­“Hannah se wiegeliedjie” is op die diens gespeel.

Ouers wil net ‘deur môre kom’.

Van Zuydam, broerskind van Willem Cornelius én susterskind van Anna Cornelius, sê “alles het vir die familie verander”.

“Tannie Anna het die oggend nog gesê iets is vir haar nie pluis nie. Die middag toe breek die nuus. Maandag moes die ouers Hannah se liggaam gaan uitken.

“Die hel is lekkerder, meer aanvaarbaar, in vergelyking met hierdie trauma. Hannah was ’n engel, beeldskoon, ’n model, kon Frans vlot praat en was baie lief vir haar medemens,” sê sy.

“My oom en tannie het hulle heeltemal onttrek. Die huiswerker, Sylvia Davis, het ook ’n kind verloor.

“Hulle volg glad nie die nuus nie. Maandag (môre) gaan hulle op ’n baie lang verlof.

“My tannie is egter vas oortuig iets goeds moet uit hierdie hartseer kom. Sy wil die Hannah ­Cornelius-stigting begin en as kampvegter vir die veiligheid van vroue en kinders optree.”

Van Zuydam sê haar oom sê skaars ’n woord.

“Hy mis sy ‘Vlooi’ ontsettend. Al wat hy sê is: ‘Ons moet deur môre kom.’

“In daardie huis is nie woede nie. Daar word nou op drie dinge gefokus: Hoe kom ons hier deur, kom ons haal iets goed uit die situasie en derdens, kom ons neem dit vorentoe,” sê Van Zuydam.

4 staan tereg

Geraldo Parsons, Nashwill Jullies, Vernon Witbooi en Eben van Niekerk verskyn weer in Julie in die hof op Stellenbosch. 

Hulle staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, verkragting, motordiefstal, roof met verswarende omstandighede en ontvoering. 

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh  |  Student  |  Verkragting  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.