Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hartenbos: 76-jarige vermoor in sy woonstel gekry

Die lyk van ’n vermiste 76-jarige man van Hartenbos is in sy woonstel gevind nadat verdagtes in sy voertuig vasgetrek is.

Fanie Oosthuizen
Fanie Oosthuizen Foto: Facebook

Die polisie het nie die oorledene se naam bekend gemaak nie, maar volgens die Facebookgroep Stop Crime SA /Stop Misdaad SA het Fanie Oosthuizen se vriende hom Vrydag by die polisie as vermis aangemeld.

Hy het in die Alikreukel-kompleks in Kaap De Goeie Hoop-laan in Hartenbos gewoon.

Volgens die Facebookgroep is bure aanvanklik na die woonstel, maar daar was geen antwoord nie. Sy motor, ’n Toyota Yaris, was skoonveld.

Polisielede is gevra om op die uitkyk te wees vir Oosthuizen en sy motor.

Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het lede op patrollie Saterdagoggend omstreeks 03:00 die motor by die ingang na Hartenbos gewaar.

“Die motor is tot stilstand gebring en die drie insittendes kon nie redes verskaf waarom die motor in hul besit was nie. Hulle is toe in hegtenis geneem weens die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

Volgens Spies is die polisie na die woonstel waar hulle op ’n lyk afgekom het. Die oorledene het kopbeserings gehad. Paramedici het hom in die woonstel dood verklaar.

Volgens die Facebookgroep het die polisie die hulp van ’n slotmaker ingeroep om sy woonstel oop te maak en is Oosthuizen met sy hande vasgebind aangetref.

Die drie insittendes van die voertuig van onderskeidelik 28, 31 en 35 jaar oud verskyn Maandag in die landdroshof op Mosselbaai op aanklag van moord en die besit van gesteelde goedere. Die polisie se ondersoek duur voort.

Na verneem word het Oosthuizen alleen in die woonstel gewoon. Hy besit die woonstel blykbaar al jare lank. Hy was vroeër onder meer werksaam by ’n plaaslike motorwas-onderneming en was volgens ’n vriend “gaaf en sou niemand skade aandoen nie”.

Oosthuizen het volgens inligting op Facebook vroeër jare in Modimolle (Nylstroom) in Limpopo gewoon. Na verneem word was drie van sy familielede Sondag van Pretoria na Hartenbos onderweg.

Meer oor:  Fanie Oosthuizen  |  Hartenbos  |  76-Jarige Vermoor  |  Verdagtes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.