Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Hartseer, woede by vermoorde Tazne se ouerhuis
Tazne van Wyk (8). (Missing Children SA)
Tazne van Wyk

Hartseer tonele het Donderdag by Tazne van Wyk (8) se ouerhuis in Clarestraat, Connaught Estate in Elsiesrivier, Kaapstad, afgespeel nadat inwoners gehoor het dat die meisie, wat op 7 Februarie naby haar huis vermis geraak het, se lyk gekry is.

Benewens trane was daar ook woede onder die inwoners wat in die straat byeengekom het nadat die nuus bekend geword het dat Tazne se vermeende moordenaar, Moyhdine Pangarker, die plek aan die polisie uitgewys waar hy glo haar lyk verberg het: in ’n stormwaterdrein in Worcester in die Boland sowat 100 km van haar huis.

“Wie se kind nou nog?” het ’n vrou emosioneel geskree. ’n Ander vrou het uitgevaar teen die plaaslike polisie.

Daar was nie net trane nie, maar ook woede oor Tazne se lot.Foto: Jaco Marais

Tazne se ouers, Terrence Manuel (31) en Carmen van Wyk (28), is deur gemeenskapsleiers na ’n plaaslike dokter geneem kort nadat die polisie die ouerpaar ingelig het hul kind se lyk is gevind.

Van Wyk is in die hospitaal opgeneem en Manuel het alleen na die huis teruggekeer.

Tazne se pa, Terrence Manuel, kom terug ná ’n besoek aan ’n dokter, waar Tazne se ma, Carmen van Wyk, agtergebly het om behandeling vir skok te ontvang. Foto: Jaco Marais

Geloofsleiers en eerwaarde Chris Nissen van die Menseregtekommissie was ook by die huis om die familie by te staan.

Nissen sê die tyd het nou vir die regering op nasionale en provinsiale vlak aangebreek om hande te vat en die epidemie van verkragting en kindermoorde in die Wes-Kaap hok te slaan. Hy sê dis ook tyd dat die departement van korrektiewe dienste die gemeenskap raadpleeg oor die mense wat op parool vrygelaat word.

Eerwaarde Chris Nissen van die Menseregtekommissie en ander geloofsleiers Donderdagoggend by Tazne van Wyk se ouerhuis. Foto: Jaco Marais

Jo-anne October, ’n buurvrou van Tazne se ouers, kon nie haar emosies bedwing nie en sê haar eie kind kon netsowel Pangarker se slagoffer gewees het.

Sy het verduidelik hy was die Vrydag voor Tazne se verdwyning by haar huis waar hy gevra het of hy haar badkamer mag gebruik. Hy was op pad na die boonste gedeelte van haar huis toe haar hond wat in die huis was glo vir hom gegrom het en hy toe daar weg is.

Emosionele tonele het buite Tazne van Wyk se ouerhuis in Connaught Estate in Elsiesrivier, Kaapstad, afgespeel waar inwoners saamgedrom het nadat dit bekend geword het dat die ontvoerde meisie vermoor is. ’n Buurvrou Jo-anne October word deur mense van die buurt ondersteun. Foto: Jaco Marais

Pangarker is Maandag in Cradock aangekeer, nadat die polisie sedert Tazne se verdwyning op sy spoor was. Hy het naby haar ouerhuis gewoon en is saam met haar by die nabygeleë snoepwinkel gesien.

LEES OOK: Pangarker ontken in oproep hy het Tazne gevat

Die snoepwinkel naby Tazne van Wyk se ouerhuis, waar die meisie en haar vermeende moordenaar glo op 7 Februarie saam gesien is voordat sy verdwyn het. Foto: Jaco Marais

Pangarker het Dinsdag in die landdroshof op Cradock op aanklag van ontvoering in ’n onverwante saak verskyn.

Ná verdere ondervraging deur die polisie is hy Woensdag saam met die ondersoekers na Worcester waar hy volgens die polisie aan hulle uitgewys het waar hy Tazne se lyk in ’n stormwaterdrein versteek het.

Hy verskyn Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklag van ontvoering en moord.

Kapt Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê nog aanklagte kan bygevoeg word.

Meer oor:  Worcester  |  Moord  |  Ontvoering  |  Tazne Van Wyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.