Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Hartswater-aanval: Sondagete onaangeraak in huis

Die huis was in chaos, daar was bloed en die Sondagmiddagkos het onaangeraak op die tafel bly staan.

Die bejaarde egpaar Danie (83) en Breggie (73) Brand en hul dogter Elzabie Brand (54), wat uit Johannesburg vir hulle kom kuier het, is Sondagmiddag in die huis op die kleinhoewe buite Hartswater op die Noord-Kaap/Noordwes-grens aangeval voordat hulle vir middagete kon aansit.

“Hulle het nie eens kans gehad om hul middagete te eet nie,” sê hul skoonseun Wikus Taljaard, wat in Brackenfell in Kaapstad woon.

Hy en sy vrou, Heidie, die Brand-egpaar se jongste dogter, het bekommerd geraak toe hulle Maandag weer Hartswater toe bel en geen antwoord kry nie.

Elzabie, Breggie en Danie Brand.

Familievriende van Taljaard en Heidie het op hul versoek op die kleinhoewe gaan ondersoek instel. ’n Grootskaalse soektog is die middag begin toe die vriende op die verlate huis afkom met die inhoud omgekeer en bloed.

Elzabie se lyk is Dinsdagoggend in ’n bebosde veld in ’n nedersetting naby Taung in Noordwes gekry. Haar ouers word steeds gesoek.

Taljaard sê hy en Heidie het Sondagmiddag, vermoedelik oomblikke voor die aanval, met haar ouers en suster oor die telefoon gepraat.

“Alles was oukei, hulle het gelag, gesels en grappies gemaak. Dit was net ná 12:00. Die aanval moes net daarna gebeur het, want hulle het nie die Sondagmiddagkos geëet nie,” sê hy.

“My vrou praat elke dag met haar ouers en toe ons hulle Maandag glad nie in die hande kry nie, het ons onraad vermoed.”

Wikus Taljaard, die egpaar se skoonseun, en sy dogter, Hybre. Foto: Instagram/Hybre Taljaard

Skoolvriende van Heidie wat naby aan die Brands woon, het gaan ondersoek instel. Volgens Taljaard was dit nie vir hulle moeilik om toegang tot die huis te kry nie. Die huis is nie in ’n afgeleë plek nie en daar is ander huise in die omtrek.

“Daar was taamlike chaos in die huis,” sê Taljaard.

Die huis was vreeslik deurmekaar en daar was bloed. Die gesin se motors was ook weg.

“Die skoolvriende het ons gebel en gesê, hier’s moeilikheid.”

Die Brands was nie in die huis nie en die familie (die Taljaards en die egpaar se ander dogter, Trudie de Beer) het die polisie en die plaaslike buurtwag in kennis gestel. Toe is die reusesoektog van stapel gestuur.

Brand se motor is kort nadat die soektog begin is in ’n woonbuurt naby Taung opgespoor.

Elzabie se motor, ’n grys Mazda CX-5, is Maandag omstreeks 23:00 op die N18-pad net duskant Pudimoe, wat tussen Hartswater en Vryburg geleë is, voorgekeer. Die polisie het die 42-jarige vrou wat die motor bestuur het en die twee mans van onderskeidelik 18 en 19 jaar oud wat saam met haar was in hegtenis geneem.

’n Vierde verdagte, ’n 20-jarige man, is Dinsdagoggend aangekeer.

Hybre Taljaard en haar ma, een van Danie en Breggie se ander dogters, Heidie. Foto: Instagram/Hybre Taljaard

In ’n verklaring wat uit die nasionale polisiehoofkantoor in Pretoria namens die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, uitgereik is, sê die polisie hulle dink in hierdie stadium van die ondersoek dat die motief vir die aanval roof was.

Die drie verdagtes het glo aan die polisie uitgewys waar Elzabie se lyk teen Ghaap se Berg gevind kon word. Hulle het glo ook aangedui dat Brand en Breggie se lyke verder in dieselfde gebied agter ’n bos met takke toegepak is. Hulle is teen Dinsdag laatoggend nog nie opgespoor nie.

Taljaard sê hulle vermoed sy skoonouers se hondjie, ’n miniatuur-pinscher, wat ’n week voor die aanval dood is, is vergiftig.

“My skoonpa het gedink ’n slang het hom gepik, maar dalk was dit ’n manier om ontslae te raak van die element wat geraas maak en waarsku.”

Daar word vermoed dat die aanvallers vir Brand na buite gelok het, hom oorval het en op dié manier toegang tot die huis gekry het.

“Dit gaan maar swaar met my vrou. Haar hele lewe het binne ’n kwessie van ’n paar sekondes heeltemal verander. Sy het hulle elke dag gebel, gehoor of dinge reg is. Dit gaan maar ’n swaar tyd wees.”

Taljaard sê hulle was besig met reëlings om sy skoonouers Kaapstad toe te laat trek.

Taljaard se dogter, Hybre, is ’n model en aktrise in die Kaap. Sy het ook Maandag desperaat op Facebook gevra mense moet help om haar ouma, oupa en tannie op te spoor.

“As enigiemand hierdie motor in die foto sien, kontak my of my ouers asseblief,” het sy gesmeek.

Wetgewer veroordeel moorde

Die Noord-Kaapse wetgewer het Dinsdagoggend ’n mosie aanvaar waarin die moord op drie lede van die Brand-familie op ’n hoewe in die Hartswateromgewing veroordeel is.

Die VF Plus sê in ’n verklaring die party verwelkom dit. “Dit is sulke tydige en ondubbelsinnige reaksies wat nodig is om die gety van plaasmoorde te keer; mits dit natuurlik in aksie omgesit word.”

Elzabie Brand (54) se lyk is Dinsdagoggend in die Taung-omgewing in Noordwes gevind nadat ’n verdagte die polisie daarheen gelei het. Anena Burger het berig Brand het die afgelope naweek uit Johannesburg vir haar ouers, Danie (83) en Breggie (73) Brand, op hul hoewe in die Noord-Kaap gaan kuier.

Hulle is vermoedelik Sondag reeds aangeval en beroof en was sedertdien vermis. Vier verdagtes is in hegtenis geneem en het ook glo aangedui in watter omgewing Danie en Breggie se lyke is, maar die polisie het dit teen Dinsdag vroegmiddag nog nie gekry nie.

“Terwyl dit te vroeg is om besliste gevolgtrekkings te maak, kan met veiligheid gesê word dat hierdie voorval óf deel van die vlaag plaasaanvalle is, óf dit word as dekmantel vir ander misdaad gebruik,” sê Theo Joubert, VF Plus-takvoorsitter in Hartswater.

“Daar was onlangs ’n plaasaanval in die nabygeleë Reivilo (in Noordwes), terwyl nog ’n aanval verlede week gefnuik is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.